Tekens van die tye – afdanking, personeelbesnoeiing, vervroegde aftrede.
Duisende mense moet dié somber vooruitsig nou die hoof bied, en daarmee saam die vernietiging van finansiële sekuriteit vir hulle en hul gesinne.
Verskeie groot werkgewers in die bank- en finansiëledienstesektor en ander wat die ergste getref word deur die strammer ekonomiese toestande, het reeds met vakbonde begin onderhandel om duisende poste te sny.
Dit is altyd ’n pynlike proses waarin daar gewoonlik geen wenners is nie.
Maatskappye wys daarop dat dit hul primêre verantwoordelikheid is om die ekonomiese voortbestaan van hul sake te verseker en dat die proses van personeelbesnoeiing (gewoonlik hul grootste enkele uitgawe) noodsaaklik is vir volhoubare winsgewendheid.
Die feit is dat maatskappye in die private sektor werk skep en dat dié vermoë regstreeks verband hou met hul ekonomiese omgewing.
Hoe dié prosesse bestuur word, is kritiek vir elke persoon wat sy werk verloor. Werkgewers kan en moet werknemers bystaan om ingeligte besluite te neem oor hul werknemer- of aftreevoordele met afdanking. Ongelooflik baie waarde kan vernietig word en oningeligte besluite kan individue se lewenspeil ná aftrede afrem.
Die volgende vereenvoudigde voorbeeld illustreer die werklike koste van ’n oningeligte besluit:
Mnr. X, ouderdom 53, word afgedank en die waarde van sy pensioenfonds tydens afdanking is R726 565,68. Mnr. X ontvang geen advies van sy werkgewer of finansiële beplanner oor sy opsies nie en sy volle pensioenfondsvoordeel word aan hom uitbetaal.
Mnr. X kry egter baie minder as wat hy verwag het aangesien belasting van R145 313,14 verhaal word teen sy gemiddelde belastingkoers van 20%. Hy ontvang dus slegs R581 252,54.
Sy probleme hou egter nie hier op nie. Hy besef hy kan dit nie bekostig om nou reeds af te tree nie en kry gelukkig drie maande later weer ’n werk, met ’n belasbare salaris van R120 000 per jaar. Mnr. X moes R81 252,54 van sy na-belaste-pensioenfondsvoordeel gebruik as oorbrugging vir sy lewenskoste en skulddelging en het die oorblywende R500 000 in ’n geldmarkrekening belê waarop hy 12% rente, dus R60 000, per jaar verdien.
Ongelukkig is die vrygestelde rente slegs R19 000 en R41 000 word dus nou by sy belasbare inkomste getel en belasting van 25% (mnr. X se marginale belastingkoers), dus R10 250,00 moet nou aaneenlopend op die rente-inkomste betaal word.
As mnr. X goeie raad gekry het en ’n ingeligte besluit kon neem, sou die situasie heeltemal anders daar uitgesien het:
Mnr X, ouderdom 53, word ingelig dat hy slegs twee jaar oor het voordat hy daarop geregtig is om uit sy pensioenfonds af te tree. Hy word ook ingelig dat hy die opsie het om sy pensioenfondsvoordele te bewaar in ’n pensioenbewaringsfonds en dat hy geregtig is op een onttrekking voor aftrede.
Die belasting-hantering van bedanking uit sy pensioenfonds en aftrede uit sy pensioenfonds verskil dramaties. Mnr. X en sy finansiële beplanner bereken dat hy R120 000 per jaar nodig het om finansieel te oorleef. Omdat hy slegs twee jaar oor het tot aftrede, besluit hulle dus om die een onttrekking te benut en R250 000 word aan mnr. X uitbetaal.
Hy betaal egter belasting op hierdie onttrekking teen sy gemiddelde belastingkoers van 20% en ontvang dus ná belasting van R50 000 ’n bedrag van R200 000. Die saldo van sy pensioenfonds ten bedrae van R476 565,68 word oorgedra na ’n pensioenbewaringsfonds by ’n bekende lewensversekeringsmaatskappy.
Mnr. X hoef geen belasting te betaal op die voordele wat hy bewaar nie. Hy gebruik R50 000 van sy onttrekking om sy skuld te betaal en belê die balans van R150 000 in ’n geldmarkrekening vir ’n maandelikse inkomste. Soos in die feitestel hierbo, kry mnr. X ná drie maande weer werk met ’n belasbare inkomste van R120 000 per jaar.
Die R150 000 wat hy in die geldmarkrekening belê het, lewer R18 000 se rente teen 12%. Dit is minder as die rentevrystelling van R19 000 en hy hoef dus geen belasting daarop te betaal nie. Die R476 565,68 wat oorgedra is na die pensioenbewaringsfonds, is ook belê in ’n geldmarkrekening teen 12% rente. Sy kapitaal groei dus tot R597 803,99 op ouderdom 55. Pensioenfondse is vrygestel van inkomstebelasting en die volle 12% rente sal dus gekapitaliseer word. Mnr. X is nie verplig om op 55 af te tree nie en indien hy dan steeds ’n werk het, kan hy bloot sy voordele verder laat groei totdat hy werklik moet aftree – gewoonlik op 65.
As mnr. X egter wel op 55 moet aftree, kan hy die kapitaal in die bewaringsfonds oordra na ’n lewende annuïteit en sy inkomste beperk tot byvoorbeeld 8% van die kapitaal en dus ’n jaarlikse belastingvrye inkomste ontvang van R47 824 (die bedrag is net meer as die belastingdrempel en grotendeels vrygestel van belasting) en dan is daar ook nog 4% van die opbrengs oor vir kapitaalgroei.
Die belangrike verskille in die twee scenario’s is die volgende:
In scenario 2 het mnr. X R95 313,14 se belasting op sy voordele bespaar en daarna R10 250 per jaar omdat pensioenfondse vrygestel is van belasting.
Minder as 1% van die land se bevolking kan dit bekostig om op 53 af te tree en deurdat mnr. X besef het dat hy waarskynlik weer ’n werk sal kry as toestande verbeter, het hy sy aftreevoordele in groot mate beskerm.
Selfs al sou mnr. X nie weer ’n werk kry nie, sou hy uit ’n belastingoogpunt in scenario 2 beduidend beter gevaar het. Die geld wat jy nou onnodig aan die belastinggaarder betaal, se kumulatiewe opbrengs kan jou lewenspeil ná aftrede beduidend beïnvloed.
Jaarliks word miljarde rande se belasting onnodig aan die SAID betaal weens ’n gebrek aan kennis en advies.
Die impak op individue se aftredevoorsiening is enorm en my pleidooi aan werkgewers, administrateurs, trustees en lede van fondse is om seker te maak van die implikasie van al die beskikbare opsies is voordat ’n werknemer diens verlaat.
Wat aftreebeplanning betref, is dit ongetwyfeld waar dat die koste van advies niks is in vergelyking met die koste van onkunde nie.
Van der Wath is ’n gesertifiseerde finansiële beplanner (CFP) by PSG Konsult.