Absa het ’n nuwe bankproduk vir gesinne en huishoudings bekend gestel waarvolgens op besteebare inkomste relatief tot huishoudelike skuld bespaar kan word.
Me. Janet Johnston, hoofbestuurder van produkte en pryse by Absa se kleinhandelbank-afdeling, sê die inisiatief bestaan uit ’n “hoof”-rekening, ’n “eggenoot/vennoot”-rekening en ’n “jeug/werknemer”-rekening.
“Hoewel die rekenings afsonderlik gehou word en steeds in die naam van verskillende individue is, word die maandelikse heffings na een rekening, die hoofrekening, herlei.”
Elke gesinsrekening sluit ’n maksimum van twee lopende rekenings en twee kind/-werker/student-rekenings vir ’n enkele maandelikse heffing in. Bykomende jeug/werker-rekenings kos meer.
Die hoof- en eggenote-rekening bestaan uit vier afdelings waarop bykomende heffings betaalbaar kan wees. Vir die fleksikeuse-rekening is dit R220 per maand; vir die silwer-aanbieding R280; vir die goud R340 en vir die platinum-gesinsaanbieding R380 per maand.
Vir die kind- of werker-rekening is die bykomende koste vir die MegaU- en Mzansi-rekening R10 per maand en die bykomende koste vir die silwer-studenterekening R13 per maand.
Die hoofrekening gee die basiese prysstruktuur en is altyd die vernaamste rekening. Byvoorbeeld, as ’n silwer- en fleksikeuse-rekening as die hoof- en eggenootrekening gekies word, is die heffing R280.
As die hooflid sowel as die eggenoot vir ’n goue rekening kwalifiseer, sal die familie R340 opdok vir al twee rekenings plus die twee kind/werker-rekenings. Dit sluit egter in onbeperkte transaksies, ook oor die internet en selfoon.
Die aanbieding geld huishoudings met dieselfde adres, ongeag die huwelikstatus, met die hoof- en eggenoot-rekeninghouers wat minstens ’n gereelde maandelikse inkomste van R2 000 of meer moet hê.
Bykomende veiligheidsmaatreëls kragtens die “Look4Me”-handelsmerk is verkrygbaar.