Maarten Mittner
Nedbank is ’n bankaandeel wat saam met ander bankaandele die laaste aantal maande skerp deurloop onder ’n negatiewe stemming in die markte.
Die mark se negatiewe siening het sy oorsprong in die subprima-krisis in die VSA wat na verskeie internasionale finansiële instellings oorgewaai het. Buitelandse beleggers het op groot skaal hul Nedbank-aandele verkoop sodat buitelandse aandeelhouding tans net sowat 10% beloop.
Nedbank het die afgelope drie jaar ’n omvattende herstruktureringsproses onder mnr. Tom Board?man en sy span gehad nadat die vorige bestuurspan die pad byster geraak het. Boardman se omdraaistrategie is aanvanklik positief deur die mark begroet met die aandeelprys wat middel verlede jaar tot R155 gestyg het. Dit het gekom nadat die beherende aandeelhouer, Ou Mutual, met ’n belang van 51%, ?R5 miljard? se kapitaal ingepomp het en Nedbank in die jongste boekjaar die vernaamste teikens gehaal het wat deur Boardman gestel is.
Sedertdien oorheers verkope weer met die aandeelprys wat in Februarie tot onder R100 afgedruk is. Die bank het ook uit die belangrike top-20-indeks van die JSE geval, wat tot nóg verkope van veral indeksbestuurders kan lei.
Volgens ontleders het die groot verkoopsgolf by Nedbank dalk nou sy einde bereik. Aandeelhouers wat nou nog aandele besit, is daar vir lang termyn. Nedbank verhandel tans teen ’n prys-verdienste-veelvoud (p/v) van 7,4 keer en ’n dividendopbrengs van 5,8%. Is dit nou ’n koopgeleentheid? Die meeste ontleders is steeds versigtig en sê daar is geen haas om te koop nie. Terselfdertyd is dit ooglopend dat Nedbank se aandeelprys tans op ’n historiese grondslag spotgoedkoop is.
Die bankgroep het vroeër vandeesmaand ’n handelsverslag uitgereik teen die agtergrond van ’n nuwe verdienstedoelwit van VPIX plus 5% vir die huidige boekjaar. Dit beteken die verdienstegroei per aandeel op ’n verwaterde grondslag word op 16% geraam, wat onder die huidige omstandighede van hoë rentekoerse en vuisvoos beleggers moeilik haalbaar kan wees. In die handelsverslag sê Nedbank hy verwag steeds positiewe groei, maar sê slegte skulde styg tans bo langtermyn-projeksies. Volgens ontleders sal Nedbank gelukkig wees om in die huidige boekjaar positiewe groei in die kleinhandel te realiseer, veral as rentekoerse verder styg.
Deutsche Sekuriteite sê in ’n navorsingsnota data in die handelsverslag noop hom nie om die verdiensteprojeksies vir die huidige boekjaar aan te pas nie. Verdienstegroei vir die jaar word op gemiddeld 16% geprojekteer teenoor die 24,7% wat vir die eerste kwartaal gerapporteer is. Die daling in die winsmarge van 3,94% tot 3,89% was ietwat teleurstellend, veral omdat verwag is dat herhalende inkomste meer na vore sou kom in reaksie op die rentekoersverhogings wat reeds deurgevoer is.
Wat duidelik uit die verslag blyk, is dat die vooruitsigte vir groter slegte skulde toeneem. Daarom word die voorspelling van die verhouding van slegteskuld-verwatering van 78 basispunte tot 88 basispunte opgestoot. “Ons verwag nou dat die slegteskuld-siklus eers betekenisvol in 2010 sal begin verbeter.”
Nedbank se private-ekwiteitsbeleggings is ’n wisselende prentjie met die blootstelling aan die steeds snelgroeiende hulpbronsektor wat positief is vir die inkomstelyn, sê Deutsche. Daarenteen is die blootstelling aan sommige eiendomsbeleggings nie so positief nie.
Volgens Deutsche is die inligting dat bedryfsuitgawes onder die begroting is, nie so positief nie. Dit dui eerder daarop dat Nedbank een of ander inkomsteswakheid ervaar. Hy is positief oor Nedbank op die langer termyn. Hy het ’n teikenprys van R145 en meen die groep beskik met sy huidige aanslag oor groot opwaartse potensiaal. Beleggers sal egter geduldig moet wees.