Die stygende lewenskoste en hoë rentekoerse dwing mense om elke maand hul inkomste verder te probeer rek.
Die bydrae tot jou mediese fonds neem ’n groot hap uit jou begroting. Stel vas watter voordele en opsies beskikbaar is.
“Jy kan altyd na ’n goedkoper opsie oorskakel in plaas daarvan om alles op een slag te kanselleer,” sê mnr. Marcel du Toit, uitvoerende hoof van Optivest-gesondheidsdienste.
Kyk rond vir bekostigbare dekking wat die beste in jou behoeftes sal voorsien en, belangrik, jou sak sal pas.
Optivest het onlangs Medquote.co.za (by www.medquote.co- .za), ’n onafhanklike aanlyn-webwerf, begin waar jy vergelykende kwotasies kan kry deur jou besonderhede in te voer, en waar jy ook die verskillende mediese fondse en die voordele wat hulle aanbied, kan vergelyk.
Met meer as 42 oop mediese skemas en meer as 220 verskillende produkopsies kan die keuse oorweldigend wees. Kies ’n mediese fonds wat ’n produk aanbied wat jou unieke behoeftes en begroting sal pas.
Volgens Du Toit is ’n mediese uitgawe dikwels ’n “onwillige” betaling. “Die feit is dat ongelukke kan gebeur en jou gesondheidstoestand is onvoorspelbaar.”
Die basiese keuse is dikwels eenvoudig omdat daar hoofsaaklik twee opsies is – hospitaaldekking en omvattende dekking. Met ’n hospitaalplan moet jy al jou uitgawes buite die hospitaal self betaal. Dit is heelwat goedkoper as ’n omvattende plan.
Hospitaalplanne
Sulke planne bied dekking vir die rekeninge van diensverskaffers terwyl ’n mens gehospitaliseer is (100%, 200%, 300% van NHRPL).
Jy is aanspreeklik vir eie uitgawes buite die hospitaal en bydraes is gewoonlik minder as dié van die omvattende planne.
Hospitaalplanne word aanbeveel vir jong en gesonde lede, individue sonder chroniese of ernstige mediese toestande en diegene wat nie volledige dekking kan bekostig nie, maar gemoedsrus wil hê.
Volledige, omvattende dekking
Dit dek bykans alle mediese uitgawes (onderhewig aan die reëls van die fonds) en voordele vir uitgawes binne/buite die hospitaal (onderhewig aan die reëls van die fonds) sowel as gereelde mediese behandeling (vir ’n toestand wat nie ’n primêre mediese voordeel behels nie), of vir diegene wat aan die een of ander ernstige mediese toestand ly.
Omvattende dekking word aanbeveel vir mediese prosedures binne die hospitaal, uitgawes buite die hospitaal en chroniese gebruik, sowel as basiese tandheelkundige en ander uitgawes buite die hospitaal en vir gesinne met kinders.
Discovery, Bonitas en Medihelp is die drie grootste skemas in Suid-Afrika volgens die wêreldkredietgradering van 2007.
Profmed, die grootste mediese skema in Suid-Afrika slegs vir gegradueerde beroepslui, voorsien lede van mediese dekking met uitgebreide voordele om by hul professionele lewenstyl te pas.
As jy tot ’n mediese skema bydra, kry jy die gemoedsrus dat daar na jou mediese behoeftes omgesien sal word.
Gesondheids- en leefstylopsies is ook beskikbaar soos gimna?sium-lidmaatskap, goedkoper vlugte en boekgeskenkbewyse.
Al hoe meer mediese fondse bied hierdie voordele as deel van hul lojaliteitsprodukte, uiteraard teen ekstra koste vir lede.
Discovery bied die Vitality-opsie teen R92 per maand vir ’n enkellid en Medihelp bied Step Up (2) teen R95 vir ’n enkellid per maand.
Lojaliteitsprogramme verskil. Doen daarom jou huiswerk.
Dit is ook raadsaam om in ag te neem wat jy maandeliks aan jou mediesefondsbydrae bestee in vergelyking met wat jy werklik nodig het.
Vergelyk die verskillende beskikbare opsies en neem ’n ingeligte besluit oor die dekking wat jou spesifieke lewenstylbehoeftes en -vereistes die beste sal pas.