Liana Mocke
Kruis-subsidiëring in veral die motor-korttermynversekeringsmark is nie ’n goeie sakebesluit nie.
Dit is die mening van mnr. Gari Dombo, besturende direkteur van Alexander Forbes Versekering.
“Dié wat oorleef in die motorversekeringsmark gaan diegene wees wat dit regkry om hul versekeringsdekking reg toe te pas,” sê Dombo. En volgens hom is die regte besluit om die hoërisikogevalle uit te sonder en te isoleer.
Hy sê as jy byvoorbeeld ’n 2%-marge vir lae risiko en ’n 6%-marge vir hoë risiko toepas, kan jy nie hoop om kruis-subsidiëring effektief toe te pas deur alle premies teen 4% te hou nie.
Dieselfde geld verskillende afdelings van die onderneming, sê hy.
Een afdeling, soos motorversekering, kan nie gebruik word om ’n nie-voertuigafdeling van versekering te subsidieer en omgekeerd nie.
Baie maatskappye het volgens hom aansienlike verliese gely op hul korttermynboeke omdat hulle juis kruis-subsidiëring toegepas het.
“In die praktyk beteken hierdie strategie dat die goeie risiko’s goedkoper dekking iewers anders gaan kry.
Dit het eerder baie meer sakesin om hoë risiko te identifiseer en te isoleer en dan daarvoor hoër premies te vra,” sê hy.
Hy gebruik ’n voorbeeld in die bedryf waar ’n versekeraar, in die geval Hollard Versekering, juis die regte strategie gevolg het en hoë risiko’s uitgesonder het.
“Hollard het besluit om geen Volkswagen Citi Golf-motors te verseker wat tussen 2004 en 2006 vervaardig is nie, tensy die kliënt goedgekeurde teendiefstaltoerusting installeer.”