Die kantoor van die ombudsman vir die Wet op Finansiële Advies en Tussengangerdienste (Fais) het onlangs uitspraak gelewer oor twee afsonderlike klagtes wat albei gehandel het oor klaers se ontevredenheid met die wyse waarop hul makelaars hul korttermynversekeringspolisse hanteer het.
Albei klaers se versekeringseise is afgekeur, maar die klaers het gevoel die makelaars was verantwoordelik vir die onbetaalde eise en daarom het hulle die klagtes by die Fais-ombudsman ingedien.
In die eerste klagte is die vragmotor en sleepwa van die klaer erg beskadig in ’n ongeluk, maar toe die eienaar ’n eis van R477 425,30 indien, is aan hom gesê dat sy versekeringspolis gekanselleer is op die aanvangsdatum daarvan aangesien geen premie ontvang is nie.
In sy klagte by die ombudsman het die klaer beweer dit was sy makelaar se plig om die premies betyds in te samel. Dit het nie gebeur nie en daarom is die polis gestaak en sy eis verwerp.
Twee finansiëlediensteverskaffers is by die saak betrokke, naamlik Policy Provider en Brokers Choice, albei van KwaZulu- Natal en verteenwoordig deur dieselfde persoon.
Die klaer is in Maart verlede jaar deur ’n verteenwoordiger van Brokers Choice genader wat sy dienste as makelaar aangebied het en ’n kwotasie vir korttermynversekering is later voorberei. Die kwotasie is op 20 April verlede jaar deur die klaer aanvaar en hy moes op versoek van die makelaar ’n datum kies waarop ’n debietorder vir die premie maandeliks verhaal sou word. Die klaer het die 15de van elke maand gekies.
Op 24 April is twee swaar kommersiële voertuie met sleepwaens verseker en die klaer het op 4 Mei sy polisdokumente ontvang.
Op 10 Mei was een van sy vragmotors en ’n sleepwa in ’n ongeluk nadat ’n band gebars en die bestuurder beheer oor die voertuig verloor het.
’n Eis is toe ingedien en die makelaar het dieselfde dag nog bevestig die versekeraar is bewus van die eis.
Op 28 Junie moes die klaer van die versekeraar hoor premies is nooit betaal nie en daarom is die versekeringspolis gekanselleer vanaf die aanvangsdatum.
Die makelaar het die probleem probeer regstel deur uitstaande premies van die klaer se bankrekening in te samel en die polis heringestel.
Maar die versekeraar het laat weet die polis kan nie heringestel word nie. Die makelaar het toe onderneem om die ingesamelde premies aan die klaer terug te betaal.
Die klaer was nie hiermee tevrede nie en het by die Fais-ombudsman aangeklop vir hulp.
In sy verweer het die makelaar verduidelik hulle gebruik spesifieke programmatuur vir hul stelsels om premies te verhaal. Die vooraf geprogrammeerde insamelingsdatums word op die stelsel gelaai. In die klaer se geval sou dit die 15de van elke maand wees.
Dié programmatuur word blykbaar deur baie versekeraars gebruik.
Maar die makelaar se sakemaand eindig op die 20ste van elke maand en die polis is eers op die 24ste April in werking gestel. Dus, toe die ongeluk op 10 Mei 2007 plaasvind, was die eerste premie nog nie verhaal nie. Die makelaar het aangevoer dit was ’n “onvoorsiene/onbekende” faktor.
Om al die feite te versamel, het die ombudsman van die versekeraar gevra om inligting te verskaf oor hoe hulle premies ingesamel word. Die versekeraar het bevestig dit is die makelaar se verantwoordelikheid om die premies in te samel en dit dan aan die versekeraar oor te betaal. As die polis ná die einde van die sakemaand in werking tree, moet ’n pro rata-premie binne 15 dae aan die versekeraar oorbetaal word, wat in dié geval nie gebeur het nie.
Me. Noluntu Bam, vise-ombudsman, het bevind die makelaar was nalatig deur nie die betaling van die premies betyds te laat verwerk nie. Die klaer is byvoorbeeld nie ingelig oor die moontlike probleme met die eerste premiebetaling nie en daar is ook geen rekord wat aandui die makelaar het enige poging aangewend om die premie binne 15 dae binne die inwerkingtreding daarvan,in te samel sodat die polis geldig kon bly nie.
Sy het ook genoem die makelaar behoort stelsels te hê om soortgelyke probleme te voorkom. Bam het daarom bevind die makelaarsondernemings moet die klaer vergoed vir sy skade van R362 050,55.
Wat die tweede klagte betref, is die klaer se eis verwerp omdat hy versuim het om belangrike, materiële feite aan die ombudsman oor te dra.
Bam het in dié saak se uitspraak benadruk dat dit uiters belangrik is dat alle partye wat by ’n klagte betrokke is, ál die belangrike en toepaslike inligting aan die ombudsman verskaf.