’n Kommersiële mielieoes van 10,764 miljoen ton kan vanjaar verwag word, het die regering aangekondig.
Danksy goeie reën is dit 51,08% meer as die 7,125 miljoen ton van die vorige seisoen, en dit terwyl die mielieprys al hoe nader aan R2 000 per ton beweeg.
In sy tweede oesskatting vir die jaar het die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) sy voorgestelde mielieopbrengs met 1,98% opwaarts aangepas.
Volgens die NOK is die hoofrede vir die styging dat die beplante oppervlakte in die Vrystaat onderskat is. Die totale aanplanting van mielies is nou 2,799 miljoen hektaar.
“Ek dink die skatting is realisties. Daar is geen verrassings nie,” sê prof. Johan Willemse, landbou-ekonoom van die Universiteit van die Vrystaat.
Sowat 6,42 miljoen witmielies word verwag en 4,33 miljoen ton geelmielies.
“Die sonneblomsaad-skatting is egter heelwat meer, maar dit is omdat meer geplant is vanweë die reën,” sê Willemse.
Die NOK se verwagte sonneblomsaad-oes van 769 080 ton is 11,96% hoër as sy vorige skatting, en meer as dubbel dié van verlede jaar se droë seisoen.
Die Suid-Afrikaanse Graaninligtingsdiens (Sagis) het Donderdag gesê Suid-Afrika se mielievoorraad het einde Februarie tot 1,985 miljoen ton gedaal van 2,565 miljoen ton in Januarie. Uitvoer vir die markjaar wat in Mei begin het, is tans 391 000 ton.
- Die termynprys vir witmielies vir lewering in Julie het Vrydag met R7 gedaal tot R1 816 per ton.
- Die termynprys vir geelmielies vir lewering in Julie het met R16 gedaal tot R1 860 per ton.