Parmalat en landbou-ekonome is bekommerd oor die afname in navorsing en tekort aan markinligting wat die landbousektor, en die suiwelbedryf in die besonder, sedert deregulasie kortwiek.
Dít behoort deel te vorm van ’n wyer gesprek oor voedselpryse, meen mnr. Theo Hendrickse, uitvoerende hoof van Parmalat SA.
“Die hartseer geskiedenis van die klere- en tekstielbedryf en hoe daar nie opgetree is om die ineenstorting te verhoed nie, net soos wat met krag gebeur het, kan nie óók in die suiwelbedryf toegelaat word nie,” het hy aan bedryfsleiers en landbou-ekonome op Stellenbosch gesê.
Hulle is byeengeroep om te praat oor hoekom pryse van stapelvoedsel, soos melk, sulke hoë vlakke bereik het en in watter mate globale druk asook die makro-ekonomiese strukture in Suid-Afrika die suiwelbedryf beïnvloed.
Verlede jaar het dié bedryf sowat R16 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie bygedra. Dit is ’n 11% styging vergeleke met die vorige jaar.
Hoewel die aantal suiwelplase tussen 2002 en 2007 van 550 tot 400 verminder het, het produksie van 320 miljoen liter per jaar tot 500 miljoen liter per jaar toegeneem. Werklike tekorte het nietemin in 2007 begin kop uitsteek weens die groei in suiwelverbruik.
Van Desember 2003 tot Februarie 2008 het die koste van diesel met 66% gestyg, bemesting het 140% duurder geraak en gekonsentreerde voer se koste het met 49% geklim.
In totaal het insetkoste met 70% oor dié tydperk gestyg en Parmalat moes sowat 65% meer aan produsente betaal.
Prof. Johann Kirsten, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit Pretoria, meen die enorme druk wat wêreldkragte – met die Chinese toename in verbruik van produkte en die integrasie van die energie- en brandstofmarkte – op verbruikerspryse uitoefen, is die hoofsaaklike drywer. Sekere plaaslike makro-oorwegings dra egter ook by. Voedsel en die landbou in Suid-Afrika het onlangs die kollig begin steel ná jare se politieke en ekonomiese verwaarlosing daarvan. Die uitdaging is om produksie volhoubaar te laat styg en verdere afnames te verhoed, sê hy.
Binnelandse belegging het, van 2002 tot 2006, meestal na algemene handel, vervoer, kommunikasie, groothandel en die motorbedryf gegaan. “Dan wonder ons hoekom almal nóú bekommerd raak oor landbou en voedsel,” het hy gesê.
Die sektore wat tussen 2000 tot 2005 die meeste groei gewys het, is konstruksie, finansies en vervoer. Al die primêre sektore, wat vervaardiging, mynwese en landbou insluit, se groei het afgeneem.
Invoer van suiwel het vanaf 1996 tot 2006 met bykans 19% gestyg – veel vinniger as plaaslike produksie.
Winsdeling in dié bedryf is nie bekend nie. “Dít is juis hoekom agterdog veral nou met hoë pryse en ondersoeke na prysvasstelling tussen groot stapelvoedselmaatskappye bestaan.
Die werking van die suiwelwaardeketting en -strukture moet deursigtiger en doeltreffender word,” het Kirsten gesê.
Geen meetbare inligting bestaan oor waar en óf pryse deur kleinhandelaars of verwerkers afgedruk word nie. Verder is daar nie gesaghebbende inligting oor die prysverhoging wat kleinhandelaars op suiwelprodukte plaas nie. Produsente sê soms dit beloop tot 40% terwyl kleinhandelaars verhogings tot 12% aandui.
As na die ooreenstemmende styging van die verbruikersprysindeks en voedselinflasie gekyk word, ontstaan die vraag hoekom mnr. Tito Mboweni, hoof van die Reserwebank, dít met rentekoerse probeer takel.
“Dit is duidelik hy verstaan nie die kommoditeitsmarkte nie,” meen Kirsten.