Edward-John Bottomley,
Koringboere beplan om vanjaar 18,7% meer koring aan te plant, maar dit is geen goeie nuus vir verbruikers nie.
“Die toename in aanplantings is bloot ’n verwagting dat internasionale pryse op hierdie hoë vlak gaan bly of nog verder gaan styg,” sê mnr. James Matthee, finansiële direkteur van Kaap Agri.
Volgens ’n steekproef van produsente wat deur die Nasionale Oesskattingskomitee (NOK) gedoen is, is die verwagte oppervlakte vir koringaanplanting in die 2008-seisoen 750 000 ha. Verlede jaar is 632 000 ha aangeplant – die kleinste sedert 1934.
Suid-Afrika, ’n netto invoerder van koring, se koringprys word grootliks vasgestel deur internasionale tendense. Dié prys het byna verdubbel vergeleke met ’n jaar gelede.
Boere plant dus meer omdat hulle verwag dat koringpryse nóg hoër gaan styg, sê Matthee.
Volgens die NOK se nuutste oesskattings is voldoende grondvog in die meeste produksiegebiede ook deels verantwoordelik vir die styging in beoogde aanplantings.
“Verskeie faktore kan egter nog tot planttyd ’n invloed op hierdie voorneme uitoefen,” sê die NOK.
Die NOK het ook sy skatting vir kommersiële mielies met 2,16% verhoog tot sowat 10,9 miljoen ton. Al bly die beplante oppervlakte onveranderd, is die verwagte opbrengs verhoog tot 3,93 ton per ha.
Die NOK skryf dit toe aan gunstige produksietoestande.
Sowat 6,5 miljoen ton witmielies word verwag en sowat 4,4 miljoen ton geelmielies.
Die produksieskatting van sojabone is met 1,68% opwaarts aangepas tot 302 250 ton.
In die bestaanslandbou-sektor is daar ’n beduidende styging van 44,2% in mielie-aanplantings tot 497 980 ha.
Dit is veral belangrik weens die skerp wêreldwye stygings in voedselpryse wat dreig om miljoene mense sonder kos te laat.
“Weens gunstige produksietoestande is die verwagte mielie-oes van dié sektor 464 069 ton,” sê die NOK. Dit is 117,1% hoër as die 213 738 ton van die vorige seisoen.
) Die termynprys vir koring vir lewering in September het gister met R95 gedaal tot R3 777 per ton.
) Die termynprys vir witmielies vir lewering in Julie het gister met R5 geklim tot R1 795 per ton.
) Die termynprys vir geelmielies vir lewering in Julie het gister met R9 geklim tot R1 864 per ton.