Jean-Marie de Waal,
Die dilemma vir pres. Thabo Mbeki én sy opvolger gaan eintlik oor syfers – 30% teenoor 1%.
Dit gaan oor die opweeg van die politieke mikpunt om 30% van produktiewe landbougrond in wit besit teen 2014 na swart begunstigdes oor te dra, dalk ten koste van dié sektor se bydrae tot die bruto binnelandse produk (BBP).
“Die landbousektor moet ernstig besin oor watter invloed die grondkwessie op sy toekomstige ekonomiese bydrae het,” meen dr. Tobias Doyer, landbouhoof van Santam. Tans dra dié sektor tussen 2,6% tot 2,8% tot die BBP by. Doyer raam op die pad wat grondhervorming tans is, met produksie wat verloor word weens onvoldoende staatsbeleide, kan ’n oordrag van ’n derde van produktiewe plase in Suid-Afrika die landbou se bydrae tot BBP met sowat 0,9 persentasiepunte snoei.
“Hoe armer mense is, hoe groter is die moontlikheid dat hulle in opstand kom. Wanneer dít gebeur, gaan die president van Suid-Afrika, wie dit ook al is, aanvoer dat ’n 30%-skuif van grond teenoor ’n verlies van byna 1% van die ekonomie moet gebeur – mits die huidige stand van sake volgehou word,” het Doyer gesê. Hy was ’n spreker by Wynkelders SA se kongres op Stellenbosch.
Doyer was voorheen uitvoerende hoof van die Landboubesigheidskamer (LBK).
In die verlede het landbou nie net ’n groter bydrae tot die BBP gemaak nie (in die 1950’s het dit soms tot 13% tot die ekonomie bygedra), maar die landbousektor het regstreekse toegang tot die regering gehad. Dié toegangslyn is afgebreek. “Dít sal dringend opgebou moet word om die sektor se swak beeld te verander,” meen Doyer.
Produsente word weens die wêreldtekort aan voedsel gedwing om produksie te laat toeneem en landbougroei is noodsaaklik vir die groei van die res van die ekonomie.
Prof. Nick Vink, hoof van die departement landbou-ekonomie aan die Universiteit van Stellenbosch, het aan Sake24 gesê dit bly ’n kwessie wat landbou-ekonome kwel as landbouproduksie nie met die oordrag van grond voortgaan nie.
“Die grondhervormingsprogram, soos dit nou staan, is ’n ramp. Amptelik is nog net sowat 4% van die doelsyfer oorgedra. In ’n stadium sal dié syfer by die BBP ingereken moet word, maar die tempo waarteen oorgedra word, is só stadig dat die berekeninge tyd sal neem,” meen hy.
Hoe grond nou oorgedra word, beteken dat produksie verloor word.
Growwe ramings vanaf die departement van grondsake dui daarop dat meer as 50% van die grond wat oorgedra word, nie weer volhoubaar produseer nie.
BBP-verliese kan nooit weer opgebou word nie. Hoewel die landbou se bydrae tot BBP taan, bly die sektor egter groei. Vink meen dít is gesond, want die plaaslike landbousektor stel steeds die res van die ekonomie, soos voedselvervaardiging en kleinhandel, in staat om te kan groei. ’n Geval soos Ethiopië, waar landbou sowat 95% tot BBP bydra, is ongesond. Waar landbougroei wel vinniger as die res van die ekonomie behoort te wees, is by uitvoer, sê hy.