Die huidige hoë brandstofpryse is tot voordeel van minstens een maatskappy in Suid- Afrika.
Mnr. Nick Vlok, uitvoerende hoof van Digicore, sê die hoë brandstofpryse noop talle vervoermaatskappye en groepe met groot voertuigvlote om Digicore se produkte aan te skaf. Digicore ontwerp en vervaardig stelsels waarmee toesighouers onder meer die snelheid en selfs luierspoed van elke voertuig kan monitor. Dit stel hulle in staat om brandstof te bespaar.
Vlok het by 'n voorlegging aan beleggingsontleders gesê die mark vir voertuigopsporing- en voertuigbestuurstelsels kan nie versadig raak nie omdat dié produkte 'n lewensiklus van sowat vyf jaar het .
Hy het in antwoord op 'n vraag gesê minder as 25% van die huidige totale aantal handelsvoertuie in Suid-Afrika is met sulke stelsels toegerus.
Die sterk rand was tot voordeel van Digicore se elektronika-afdeling, oftewel sy fabriek waar die hardeware-stelsels vervaardig word, omdat dit die insetkoste van komponente verlaag het. Die fabriekspersoneel is van 60 tot 76 uitgebrei.
Die groep het in die halfjaar tot einde Desember sy toeskryfbare verdienste met 46% tot R16,2 miljoen opgestoot en vir die eerste keer 'n tussentydse dividend van 2c per aandeel verklaar.
Digicore stel sy produkte in April in Doebai bekend. Die groep is reeds betrokke in Pakistan en gebruik dié land as basis om in die Midde-Ooste uit te brei. Digicore het ook in Nigerië begin bemark.