Safic gaan binne weke begin met ’n aanvoorprojek om elektrisiteit vir sy Floorworx-fabriek in Oos-Londen met windkrag op te wek.
Floorworx vervaardig vloerbedekkings vir onder meer hospitale, skole en stadions.
Safic, wat op die AltX genoteer is, hoop om uiteindelik 3 MW krag op te wek, wat sy fabriek selfvoorsienend sal maak.
Volgens mnr. Fred Platt, uitvoerende hoof, is Floorworx se elektrisiteitsrekening tans tussen R300 000 en R350 000 per maand.
’n Aanleg om sy eie krag op te wek, sal hom sowat R30 miljoen uit die sak jaag. As hy tweedehandse toerusting koop, waarvan daar nou glo heelwat in Denemarke beskikbaar is, kan dit hom R20 miljoen kos.
Die besparing kan die belegging dus binne sowat tien jaar betaal, terwyl Safic boonop nie onder kragonderbrekings weens die Eskom-krisis deurloop nie. Hoe hoër elektrisiteitstariewe styg, hoe korter kan dié tydperk word.
Safic werk tans saam met Kestrel, ’n plaaslike filiaal van Eve?rea?dy, aan ’n aanvoorprojek waaruit binne ’n paar maande sal blyk of die planne haalbaar is. Dit is hoofsaaklik daarop gemik om die bestendigheid van die wind te bepaal.
Dié projek sal sowat R150 000 kos en 3,2 kW opwek.
As alles volgens plan verloop, hoop Safic om vanjaar nog met die konstruksie van die finale aanleg te begin, hoewel daar nog nie duidelikheid is oor die omgewingsprosesse wat vereis word nie.
) As Safic Beherend se aandeelhouers die groen lig gee, sal dié groep se naam op 14 Mei verander na Accéntuate. Volgens Platt het die groep ambisieuse groeiplanne en wou hy ’n naam vind wat minder beperkend is as die huidige.
Safic is ook die naam van die chemiese filiaal, en belangegroepe het volgens Platt gemeen dat die groepnaam nie te veel op een deel van die onderneming moet fokus nie.