Die groeipyne van Barloworld se herstruktureringsproses blyk iets van die verlede te wees.
Die tussentydse resultate van die groep wys die uitwerking hiervan is suksesvol deur die maatskappy verwerk.
Die groep se resultate vir die ses maande geëindig 31 Maart 2008 is gister bekend gemaak en toon sterk opbrengsgroei.
Die bedryfswins het ook met bykans 30% gestyg tot R1 279 miljoen.
Barloworld se uitvoerende hoof, mnr. Clive Thomson, het gister gesê hy is baie tevrede met die groep se resultate.
“Ons het ons verwagtinge oortref. Ses maande gelede het ons aan onsself sekere mikpunte gestel, en dié mikpunte is bereik, veral te danke aan die sterk vertoning van ons toerusting-afdeling,” het Thomson gesê.
Barloworld is die alleenverskaffer van Caterpillar-toerusting in Suid-Afrika en verkoop dié Amerikaanse produkte reeds sedert 1927 in die Suid-Afrikaanse mark.
“Caterpillar verteenwoordig sowat 60% van Barloworld se omset. Die vraag na dié produkte neem só toe dat wagtye toeneem, met klante wat gevolglik ál vroeër hul bestellings by Barloworld begin plaas. Die fabrieke wat die Caterpillar-toerusting vervaardig, kan eenvoudig nie bybly nie.”
Sowat 50% van die groep se omset is mynbou-verwant en die ander 50% is konstruksie-verwant, het Thomson vroeër gesê.
Die groep se voertuig-afdeling se resultate was minder goed, met ’n bykans 6%-verswakking in voertuigverkope.
“Ons verwag volgehoue moeilike tye vir dié sektor vir minstens die volgende ses maande, veral as nog rentekoersverhogings kom.”
Barloworld se langverwagte SEB-transaksie is op koers en sal volgens Thomson voor einde Junie afgehandel wees.
Dié transaksie sal onder meer werknemers van Barloworld insluit, ’n ongeskiktheidsbemagtigingskonsortium en ’n opvoedingstrust vir Barloworld-werknemers.
Barloworld is tans bedrywig in 48 lande en Thomson verwag groei sal in die toekoms plaasvind in veral Rusland en die ontwikkelende lande in Afrika.
- Bedryfswins: R1,279 miljard
- Wesensverdienste per aandeel: 345c (+105%)
- Verdienste per aandeel: 506,4c
- Wins ná belasting: R640 miljoen