Vryers na MTN steek nou byna weekliks kop uit, en vandeesweek is geen uitsondering nie.
Gister het ’n telekommunikasiereus van die Verenigde Arabiese Emirate (VAE) bevestig dat hy ook ’n oog op MTN het.
Die Emirates Telecommunications Corporation (Etisalat) het aangedui dat hy spesifiek MTN, maar ook ander maatskappye, “evalueer”.
Etisalat is in staatsbesit en is in 16 lande bedrywig.
“Ons is altyd op die uitkyk na uitbreidingsgeleenthede in Afrika,” het mnr. Mohammed Omran, voorsitter van Etisalat, aan verslaggewers in Kaïro gesê.
Dié nuus kom nadat MTN sowat twee weke gelede bevestig het dat hy en die Indiese selfoonreus Bharti Airtel gesprekke voer wat, as dit suksesvol voltooi word, ’n wesenlike uitwerking op sy aandeelprys kan hê.
“Die gesprekke is ondersoekend van aard en kan tot ’n transaksie lei, of dalk nie,” het die groep toe gesê.
Dié uitlating het bespiegelings in die mark oor ’n moontlike oorname laat opvlam.
Hoewel Bharti in ’n verklaring gesê het dat hy geen aanbod vir die hele of ’n deel van MTN gemaak het nie, het die mark nie tot bedaring gekom nie.
Teen einde April, toe oorname-bespiegelings momentum begin kry het, het MTN se aandele vir sowat R133 elk verhandel.
Dit het sedertdien baie versterk en gister het die aandeelprys op R159 gesluit, byna 20% hoër as twee weke gelede.
Intussen het die Britse Vodafone-groep, die wêreld se grootste selfoonmaatskappy, gister gesê hy het geen voorneme om ’n aanbod vir MTN te maak nie.
Dié verklaring kom nadat twee Britse Sondagkoerante die naweek berig het dat ook Vodafone dit oorweeg om ’n aanbod te maak.
Verlede week het die Chinese selfoongroep China Mobile Communications aangedui dat hy in die mark in Afrika belang stel, maar dat hy nie ’n aanbod vir MTN gemaak het nie.
Dit is nie duidelik of dié groep in ’n latere stadium ’n aanbod wil maak nie.
Volgens mnr. Rajay Ambekar, ’n ontleder by Cadiz African Harvest, het MTN se bevestiging dat hy inderdaad in gesprek is met Bharti Airtel, moontlik ander belangstellendes na vore laat kom.
“MTN is ’n aantreklike bate, maar elke bate kom teen ’n prys,” het hy gesê.
Volgens hom sal dit boonop nie vreemd wees as nóg ’n paar belangstellendes in die volgende paar weke ook kop uitsteek nie.
Dit kan moontlik op ’n bodoorlog uitloop, het hy gesê.
Ambekar meen egter onderhandelings is waarskynlik nog in ’n vroeë stadium.
Aanvanklike bespiegelings was dat Bharti tussen R165 en R175 per aandeel wil aanbied, maar Ambekar meen ’n beherende belang in die groep is waarskynlik R180 per aandeel werd.
Hy hou steeds vol dat dit selfs nie onmoontlik is dat MTN dalk eerder ’n belang in Bharti wil verkry nie.