Nellie Brand,
Die maatskappy wat onlangs aangekondig het dat die oud-rugbyspeler Joost van der Westhuizen as sy bedryfshoof aangestel is, is gister deur die Pretoriase hooggeregshof onder voorlopige kuratorskap geplaas.
Progressive Investment Holdings Beperk asook sy verwante maatskappye Progressive Investment Trust, Progressive Asset Management en National Financial Partners is onder kuratorskap geplaas.
Die maatskappy het in Maart die nuus gehaal toe aangekondig is Van der Westhuizen is as sy bedryfshoof aangestel. Van der Westhuizen het toe aan Sake24 gesê dit is sy eerste treë in die finansiëledienste-bedryf en spesifiek op dié vlak van bestuur.
Die registrateur van maatskappye se webtuiste toon dat Van der Westhuizen – hoewel hy 18 direkteurskappe by maatskappye beklee – nie ’n direkteur van een van bogenoemde maatskappye is nie.
Adv. Neville John Melville en ’n forensiese rekenmeester, mnr. Jabulani Mahlangu, is as gesamentlike kurators aangestel.
Belangegroepe kry op 7 Julie die geleentheid om kommentaar te lewer.
Die aansoek om die bevel is deur die Raad op Finansiële Diensteraad (RFD) ingedien.
Die aansoek is op aandrang van die registrateur van finansiëlediensteverskaffers voorafgegaan deur ’n omvattende ondersoek oor die sake van Progressive Investment Trust en sy verwante instellings.
Op die maatskappy se webwerf blyk RFD-inspeksies is reeds in April 2007 begin.
Ingevolge die voorlopige bevel sal die kurators onmiddellik beheer oorneem en die trust, die ondernemings en hul bedrywighede bestuur en ondersoek.
Dit is om ten beste in die belang van beleggers in die ondernemings op te tree, is in ’n verklaring deur die RFD gesê.