Hoër oliepryse en die wisselvallige rand gaan wéér vanjaar veroorsaak dat die SA Lugdiens (SAL) nie ’n wins toon nie.
Dit volg op die omvattende omkeerstrategie die afgelope boekjaar waarin 2 000 werkers die diens van SAL verlaat het en verskeie vliegtuie verkoop is.
Mnr. Khaya Ngqula, uitvoerende hoof, het gister op ’n perskonferensie by die SAL-hoofkantoor naby die O.R. Tambo-lughawe gesê goeie vordering is gemaak om die SAL winsgewend te maak, maar nuwe uitdagings het ontstaan.
“Dit is onwaarskynlik dat ons die beoogde winsmarge van 7,5% sal bereik,” het hy gesê.
SAL het in die boekjaar tot einde Maart 2007 ’n verlies van R603 miljoen gely. ’n Ooreenkoms is daarna met vakbonde aangegaan om die lugdiens beduidend om te swaai.
Tot op datum het 235 bestuurders die SAL verlaat, met 963 werkers wat vrywillig geloop het. Altesame 869 werkers het bedank, wat meebring dat die werkmag van 10 800 met 2 000 verklein is.
Die gepaardgaande besparings beloop R638 miljoen, met ’n verdere besparing van R600 miljoen wat in 2009 sal realiseer deurdat sommige vliegtuie nie gebruik word nie. Die verouderde ses Boeing 747-400’s is nie meer in gebruik nie. Die eenmalige besparing beloop R1,56 miljard en is in Maart verlede jaar aangekondig.
Dit was egter nie genoeg om die lugdiens weer winsgewend te maak nie aangesien hoër oliepryse ’n verdere las van R950 miljoen op die winspoging plaas.
Die SAL se begroting die afgelope boekjaar is gegrond op ’n gemiddelde olieprys van $65 per vat.
Dié is intussen tot gemiddeld $85 per vat aangepas. Volgens Ngqula kan die jongste stygings tot meer as $120 per vat die SAL se wins verder inkort.
Voorlopige aanduidings toon ’n winsmarge van 6,2%, maar dit kan tot so laag as 3% daal.
In ’n skikking met vakbonde is loonverhogings van 9% vir 2008-’09 beding wat in die volgende boekjaar tot VPIX plus 1% styg en in 2010-’11 tot VPIX plus 2%.
Die bestuur het ’n gemiddelde verhoging van 7% gekry.
Ngqula het beklemtoon die oogmerk is steeds om die SAL winsgewend te bedryf.
“Ons glo wanneer die herstrukturering in Maart 2009 afgehandel is, sal ons volhoubaar winsgewend wees.”
Stappe wat tans gedoen word om die hoë oliepryse teen te werk, sluit in ’n brandstofheffing op passasiers en die aangaan van olie- en valutaverskansingskontrakte. Tans vorm olietermynkontrakte 23% van die aankope teenoor 0% verlede jaar terwyl meer as 50% van die uitgawes aan valutakontrakte gekoppel is om die swakker rand teen te werk.
Die SAL werf op groot skaal weer nuwe personeel en die hoop is dat 100 tegnici van die mislukte Nationwide hul by die SAL sal aansluit.
Mnr. Jason Krause, die SAL se ontwikkelingshoof, sê die SAL beplan om sy netwerkroetes beduidend uit te brei in afwagting van ’n groter passasiersvraag. Een van die nuwe roetes is na Maun in Botswana terwyl die roete na Moembaai verder uitgebou word.
“Verreweg die grootste deel van ons uitbreidings sal na Afrika wees,” het hy beklemtoon.
Uit ’n strategiese oogpunt, het Ngqula gesê, is die plan om die SAL in 7 sake-eenhede te verdeel, ook steeds daar. “Maar ons het massiewe uitdagings.”