Die petrochemiese groep Sasol se aandeelprys het gister wipplank gery nadat die groep bekend gemaak het dat sy sintetiese-brandstofproduksie laer as verwag gaan wees.
Nóg nuus uit die verklaring is dat Sasol se beplande gas-tot-vloeistof-aanleg in Nigerië by Escravos nou eers in 2011 klaar sal wees.
Sasol sê hy verwag ook sy wesensverdienste per aandeel sal tussen 50% en 60% meer wees danksy die swakker rand, hoër oliepryse en ’n verbetering in die oorhoofse produksiekoers.
Die goeie nuus in die verklaring het egter nie die aandeelprys deurlopend ondersteun nie omdat die maatskappy terselfdertyd bekend gemaak het dat sintetiese brandstofvolumes laer as voorheen verwag gaan wees.
Sasol het op 10 Maart vanjaar gesê hy verwag dat dié volumes 4% hoër as die vorige jaar sal wees.
Die aandeelprys, wat Maandag op R482,60 gesluit het, het in ’n stadium tot onder R475,00 gedaal voordat dit later weer tot bo die vorige dag se sluitingsprys gestyg het.
Sasol vervaardig brandstof uit steenkool en gas in Suid-Afrika.
Die groep het ook ’n aanleg in vennootskap met Qatar Petroleum in Katar.
In die verklaring sê Sasol hy verwag dat die kapitaalkoste van Escravos met $6 miljard sal styg.
Die sluitingsprys was gister R485,00.