s
Maar sy uitvoerende hoof waarsku dat Spar selfs met sy slim benadering tot sy bedrywighede tot dusver nie “immuun” is teen die druk wat voedselinflasie en rentekoersverhogings vanjaar nog gaan uitoefen nie.
Denkfoute is dikwels in die verlede oor die opkomende mark gemaak, sê mnr. Wayne Hook, uitvoerende hoof van die voedselgroothandelaar en -verspreider. Tot onlangs moes verbruikers in die opkomende middelklas, wat uit voorheen benadeelde groepe bestaan, ver soek na kleinhandelaars wat aan hul behoeftes kan voldoen.
“Van ons mededingers het sekere gebiede, waar dié verbruikers woon, as ‘moeilikheid’ beskou en wou nie groot hoeveelhede belê nie,” vertel hy.
Spar het nou sowat 60 groot winkels in gebiede wat altyd as townships bekend gestaan het. Hook sê die fout is gemaak om eerder kleiner winkels oop te maak, wat minder geld verg. Almal moes eerder van die begin af groot winkels oopgemaak het, sê hy.
Dié groep se halfjaarresultate tot 31 Maart wys omset vergeleke met die ooreenstemmende tydperk verlede jaar is met sowat 24% tot R13 miljard hoër.
Bedryfswins het met byna 25% tot R496 miljoen gestyg en wesensverdienste per aandeel het met 28,7% tot R2,02 geklim.
Te midde van kommer oor stygende voedselinflasie en verdere rentekoersverhogings, meen Hook dit help nie om onheil te voorspel en mismoedig te raak nie. “Ons moet voortgaan met die opgradering van bestaande winkels en in die verspreidingsentrums bly belê,” glo hy.
Verlede jaar is 135 winkels nuutgemaak en 129 winkels word vir vanjaar beplan.
Ongetwyfeld begin die groep insetkoste van verskaffers te voel, sê hy. Al hoe prysverhogings nou teëgewerk kan word, is om seker te maak volumes is hoog. Daar is egter probleme met voorraad en Spar sukkel om aan die behoefte te voldoen. Die kapitaaluitbreiding van R400 miljoen waarvoor begroot is, behoort vermoë verder te vergroot.
’n Verspreidingsentrum in Philippi is in April opgerig. Dit het sowat R270 miljoen gekos. ’n Gerief vir bederfbare goedere, ter waarde van R185 miljoen, word eersdaags in Mount Edgecombe in KwaZulu-Natal, opgerig.
Die brandstofpryse het ook bedrywighede onder groot druk geplaas. Spar het ’n vervoervloot van 250 vragmotors en koste het gevolglik in ses maande met 40% opgegaan. Al wat dít kan versag, is om doeltreffender te wees. “Ons maak nou seker al ons vragmotors word vol gelaai. Ons koop nou net groot treilers wat minstens 15 m lank is,” sê hy.
Hook sê Spar se Tops-drankwinkels het besonder goed gevaar. Dit groei tans vinniger as Spar-winkels en daar is tans 321 winkels. Die groep se Build it-afdeling het sterk vertoon met ’n omset van byna R1,1 miljard, amper 26% hoër. Daar is nou 254 winkels.
Mnr. Abri du Plessis, ontleder by Gryphon-batebestuur, sê Spar se goeie resultate kan grootliks aan die groep se model van geriefsinkopies toegeskryf word. Om groot winkels in woonbuurte te konsentreer, kon hy ’n beter voetspoor as sy mededingers, Woolworths Foods en Pick ’n Pay Family Stores, laat.
Spar het sy winkelruimte met 2,4% tot 798 797 m² in die oorsigtydperk uitgebrei. Du Plessis sê aanvanklik het kritici gedink dít is te konserwatief.
Maar as nou gekyk word na Woolworths (wat sy vloeroppervlakte met 12% uitgebrei het) en Pick ’n Pay, wat winkelruimte baie aggressief uitgebrei het, blyk dit Spar het hiér die regte besluit geneem.