Nellie Brand,
Dynamic Wealth het gister ontken dat hy die effektetrusts van die batebestuurder Progressive Asset Management (PAM) wat vandeesweek onder voorlopige kuratorskap geplaas is, gekoop het.
Sake24 het gister uit ’n hofdokument aangehaal waarin gesê is dat Dynamic Wealth die effektetrusts van die batebestuurder PAM gekoop het.
Die batebestuurder Dynamic Wealth het met ontsteltenis op die berig gereageer omdat die inligting glo verkeerd is. Mnr. Phillip Hattingh van Dynamic Wealth het gesê hulle is sowat twee maande gelede genader deur mnr. Freddie Anda?laft, wat in die hofstukke as die “brein” beskryf word agter die vier ondernemings wat onder voorlopige kuratorskap geplaas is. “Dit was egter net gesprekke en ons het nog nie naastenby by die opstel van ’n sakeplan gekom nie,” het Hattingh gesê.
Die bespreking het gehandel oor die skuif van die effektetrustfondse na Dynamic ?Wealth se fondse.
Dynamic Wealth is ongelukkig dat sy naam by die saak ingesleep word.
In Andalaft se beëdigde antwoord op die aansoek om kuratorskap deur die registrateur van finansiëlediensteverskaffers, word gesê met ingang 1 April is PAM aan ’n derde party verkoop. Hy sê in die beëdigde verklaring as voorwaarde van die transaksie het Dynamic Wealth die effektetrusts gekoop wat aan PAM behoort het. Dít word elders in die dokument weerspreek omdat gesê word dit gaan nog aan Dynamic Wealth verkoop word.
Volgens hom was die voormalige Springbokrugbyspeler Joost van der Westhuizen – wat in Maart aangestel is as bedryfshoof van Progressive Investment Holdings (PIH), ’n verwante maatskappy wat ook onder voorlopige kuratorskap geplaas is – teenwoordig op ’n opvolg-vergadering met Andalaft.
Sake24 het gister ook ’n oproep gekry van PSG Konsult omdat verkeerdelik berig is dat dié makelaar geld by Progressive Investment Trust (PIT) belê het.
Uit die funderende verklaring van die registrateur waarop die aansoek vir kuratorskap gegrond is, word gesê dat PSG Konsult die makelaar is van SA Studbook Provident Fund, wat in die trust belê is.
Sake24 het geskryf PSG Konsult het die geld belê. Dit is egter verkeerd, blyk dit uit aanhangsels tot die hofstukke en van PSG Konsult.
Die geld van SA Studbook Provident Fund van Bloemfontein is jare gelede by die trust belê deur die makelaar Finshare Assurance Brokers (in hofstukke word gesê dit is die naam waaronder PAM voorheen bekend gestaan het).
PSG Konsult het eers in Februarie 2006 betrokke geraak toe Advance Wealth Management (AWM), wat intussen die makelaar van SA Studbook geword het, oorgeneem is.
In aanhangsels tot die registrateur se verklaring is die onlangse briefwisseling tussen PSG Konsult en Andalaft asook die Raad op Finansiële Dienste (RFD).
Daarin verwys PSG Konsult na kommer (van eers AWM en toe homself) oor hoe die fonds se geld belê is. “Ons besorgdheid oor die wesenlike blootstelling aan private ekwiteit is al in Junie 2006 onder u (die RFD) se aandag gebring,” word geskryf. Die brief is gedateer Februarie 2008.
Hoewel net 5% van ’n pen?sioenfonds se geld in private ekwiteit belê mag word, het die trust se beleggings daarin glo sowat 65% verteenwoordig.