Francois Williams,
Terwyl ’n stuk of tien van Nationwide se vliegtuie verlate in ’n ry op die aanloopbaan by die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg staan, is die toekoms van talle oudwerknemers van die lugdiens onseker.
Die vakbond Uasa het gister gesê dit blyk dat sowat 150 voormalige werknemers van die voorlopig gelikwideerde maatskappy tegnies nie op werkloosheidsvoor?dele kan aanspraak maak nie omdat drie kleiner filiale van die Nationwide-groep nie om likwidasie aansoek gedoen het nie.
Nationwide Airlines, waar die meeste van die sowat 850 werknemers gewerk het, en wat die grootste inkomstegenereerder van die groep was, het om voorlopige likwidasie aansoek gedoen, maar Nationwide Support, Nationwide Maintenance en Nationwide Charter het nie.
Mnr. André Venter, woordvoerder van Uasa, het gesê die 150 werkers van die drie kleiner filiale is meestal halfgeskool. Dis juis hulle wat van werkloosheidsvoordele afhanklik is.
Uasa sê die vakbond se voorkeurlikwidateur, Commonwealth Trust, sal by die departement van arbeid aansoek doen om ’n uitsondering te maak en hierdie werkers se werkloosheidsvoordele uit te betaal voordat die hele proses afgehandel is. Dit is ’n tussentydse maatreël om die werkers te help.
Mnr. Hannes Muller van Tshwane Trust, voorlopige likwidateur van Nationwide, het intussen by navraag gesê hy word steeds oorval met navrae van belangstellende kopers vir die lugdiens. Daar is reeds 70 belangstellendes. Hulle almal sê dat finansiering nie ’n probleem is nie, dat hulle lugvaartervaring, buitelandse ondersteuning en die regte politieke konneksies het.
Hy het gesê Air Charter het die vliegtuie op die aanloopbaan gefinansier en niemand het seggenskap oor die vliegtuie nie. Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het volgens hom die toegangspermit tot die vliegtuie teruggetrek en daar word met Acsa onderhandel om seker te maak die vliegtuie is beveilig.