Suid-Afrika is vanjaar vir die eerste keer nie meer die grootste bydraer tot SABMiller se verdienste nie.
Dié multinasionale bierbrouer, wat sy wortels in Suid-Afrika het, het gister met die bekendmaking van sy finansiële resultate vir die jaar tot 31 Maart aangedui dat sy streek in Latyns-Amerika nou die meeste tot sy verdienste voor rente, belasting en amortisasie (ebita) bydra.
Suid-Afrika was dié jaar vir 24% van die groep se ebita verantwoordelik terwyl Latyns-Amerika 25% en Europa 23% daarvan bygedra het.
Volgens mnr. Graham Mackay, uitvoerende hoof, is dit nie so vreemd dat Latyns-Amerika Suid-Afrika nou verbygesteek het nie. “Suid-Afrika is net een land en Latyns-Amerika is verskeie,” het hy gister gesê.
Suid-Afrika het net verlede jaar nog 30% van die groep se ebita verteenwoordig.
Die Suid-Afrikaanse Brouerye (SAB), SABMiller se filiaal hier, het egter ’n terugslag beleef toe hy verlede jaar een van sy belangrikste bier-handelsname verloor het toe Heineken besluit het om sy lisensie van 40 jaar vir die produksie en verspreiding van Amstel in Suid-Afrika op te skort. Dié bier het 9% van die SAB se biervolume-verkope in Suid-Afrika verteenwoordig.
Ondanks dié 9%-terugslag in volumeverkope kon die filiaal sy biervolume-verkope op dieselfde vlak as die vorige jaar hou en is dit merkwaardig dat hy steeds ’n inkomstegroei van 5% getoon het.
Mackay meen die SAB se resultate is in die lig hiervan “bevredigend”. Intussen het die ander filiale gefloreer.
SABMiller se totale inkomste asook sy ebita het met 15% gegroei.
Dié resultate het die mark gister só opgewonde gehad dat SABMiller se aandele 650c of 3,63% hoër op R185,50 gesluit het.
Volgens Mackay was dit ’n “sterk jaar ondanks ’n paar winde van voor”.
Die groep het ’n wesenlike styging in insetkoste ervaar – die prys van gars en mout het meer as verdubbel en hops is sewe tot tien keer duurder.
Die impak hiervan is verlig deur die sluiting van verskaffingskontrakte, verskansingsprogramme asook beleggings in infrastruktuur soos die garsaanplanting in Indië.
Die groep se globale voetspoor brei jaarliks uit.
Die afgelope jaar se hoogtepunte sluit in: die oorname van die Amsterdamse biergroep Koninklijke Grolsch, die verkryging van sy eerste brouery in die Oekraïne, die besluit (wat steeds aan goedkeuring van owerhede onderworpe is) om met Molson Coors in die VSA saam te smelt en groot uitbreidings in China.
“In China het ons handelsnaam Snow ’n groei van 63% getoon.
“Dit is nou een van die wêreld se drie top-biere as dit aan volumeverkope gemeet word,” het Mackay gesê.
- Inkomste: $21,410 miljard (+ 15%)
- Wins voor belasting: $3,264 miljard (+ 16%)
- Ebita: $4,141 miljard (+15%)
- Kontantvloei uit bedrywighede: $4,276 miljard (+ 6%)
- Aangepaste wesensverdienste per aandeel: 143,1c (+ 19%)
- Dividend per aandeel: 58c (+ 16%)