Die Mededingingskommissie ondersoek die moontlikheid dat Suid-Afrika se hele primêre-staalsektor hom aan sameswering en ander vorme van prysvasstelling skuldig gemaak het.
Die kommissie het reeds Donderdag klopjagte uitgevoer op die kantore van Highveld Steel and Vanadium, Cape Town Iron and Steel Works (Cisco) en die South African Iron and Steel Institute (Saisi) – die vereniging wat die land se grootste staalvervaardigers verteenwoordig.
Die ondersoek betrek ook ArcelorMittal, Scaw Metals Group, Cape Gate en die vyf grootste staalhandelaars in die land, sê me. Nompucuko Nontombana, ’n senior ontleder by die kommissie.
Al die maatskappye kan ook steeds gedagvaar word om bykomende dokumente te lewer.
Highveld is benewens ArcelorMittal die enigste groot vervaardiger van platstaal in Suid-Afrika.
Die nuwe ondersoek spruit gedeeltelik uit die saak van die kommissie vroeër teen ArcelorMittal waarin die staalreus daaraan skuldig bevind is dat hy buitensporige pryse opgedwing het. Daarvoor is die groep ’n boete van R700 miljoen opgelê.
ArcelorMittal se appèl teen die boete moet nog afgehandel word, maar as die aansoek nie slaag nie, kan die staalreus hom met die tweede ondersoek selfs in groter moeilikheid bevind omdat mededingingswetgewing voorsiening maak vir swaarder strawwe wanneer ’n maatskappy hom vir ’n tweede keer aan ’n verwante misdryf skuldig maak.
Die eerste ondersoek het net ArcelorMittal se platstaal-bedrywighede gedek. Deur ook op Highveld te fokus, kan die kommissie ’n volledige prentjie skets van hoe pryse in Suid-Afrika se primêre sektor vir platstaal gevorm word.
Die kommissie gaan nou ook langstaal-vervaardigers se sake ondersoek.
“Dit is ’n afsonderlike saak,” sê Nontombana.
Die Mittal-ondersoek het spesifiek oor buitensporige pryse gehandel, terwyl die fokus nou op sameswering en prysvasstelling is, sê sy.
Eerstens word die moontlikheid van prysvasstelling ondersoek na aanleiding van ’n klag wat deur ’n lid van die publiek ingedien is dat Highveld en ArcelorMittal neig om hul pryse tegelykertyd met soortgelyke persentasies te verhoog.
Dié parallelle optrede “suggereer minstens” samewerking, sê die kommissie.
Voorts gaan probeer word om in die ondersoek vas te stel of hoë staalpryse, wat volgens voorlopige navorsing neig om invoer-pariteit te bereik, die gevolg is van selfs wyer sameswering.
Die tweede fokus is die beweerde “eksklusiewe ooreenkomste” wat staalhandelaars keer om staal in te voer eerder as om plaaslike vervaardigers se pryse te aanvaar.
“Daar is geen aanduiding dat die groter handelaars, wat dit waarskynlik sou kon doen, eens probeer het om laer pryse te soek nie,” sê Nontombana.
Dié optrede dui dus ook op sameswering.
Die ondersoek is nog in ’n vroeë fase en daar is geen waarborg dat dit voor die Mededingingstribunaal sal beland nie, het Nontombana gesê.