Sowat 2 500 eise is reeds by die lugdiens Nationwide se likwidateurs ingedien vir vliegkaartjies wat gekoop is, maar nie gebruik is teen die tyd dat die lugdiens gelikwideer is nie. Die eise bedra sowat R19 miljoen.
Mnr. Hannes Muller van Tshwane Trust, die likwidateurs, het beklemtoon daar is nog geen duidelikheid hoeveel geld beskikbaar sal wees vir die uitbetaling van sulke eise nie.
Die potensiële koper van die lugdiens met wie die likwidateurs tans onderhandel, het wel onderneem om vir ’n jaar plek op sy vlugte oop te laat vir eertydse Nationwide-passasiers wat vir kaartjies betaal het, maar nooit kon vlieg nie, het hy gesê.
Hy het beklemtoon die likwidateurs sal volledige inligting bekend maak sodra daar iets konkreets op die tafel is.
Mense is gevra om nie die likwidateurs te bel nie. Inligting sal deurgegee word sodra dit bekend is.
Muller het gesê die grootste skuldeisers is BP (sowat R19 miljoen), die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (sowat R18 miljoen), Eerste Nasionale Bank (sowat R11 miljoen) en Aerotrans (sowat R153 miljoen), ’n maatskappy wat op die eiland Man geregistreer is en wat betrokke was by die finansiering van sekere van Nationwide se vliegtuie.
Vergaderings is verlede week met onder andere die departement van arbeid en die Burgerlugvaartowerheid gehou oor die behoud van Nationwide se vlieglisensie.
Mnr. André Venter, woordvoerder van die vakbond Uasa, het gesê die meeste van die lugdiens se kajuitpersoneel en vlieëniers het reeds werk gekry by die ander lugdienste soos Comair, SA Express, Airlink en die Suid-Afrikaanse Lugdiens. Sowat 100 ongeskoolde werkers van Nationwide Support, wat meestal bagasiehantering gedoen het, moet egter nou in die mark meeding met ander ongeskoolde werkers, het Venter gesê.
- Muller het bevestig dat die laekostelugdiens 1time nie onder die potensiële kopers van Nationwide is nie. Mnr. Glenn Orsmond, hoof van 1time Holdings, het dit ook gister bevestig.
Dit volg op gerugte ná ’n omsigtigheidsverklaring van 1time dat hy in onderhandelinge oor ’n verkryging is wat sy aandeelprys kan raak.
Orsmond het gesê die verkryging is wel in een van die drie sektore waarin die groep sake doen – lugdienste, huurvlugte of vliegtuigonderhoud.
Sodra die noulettendheidstudies voltooi is, sal die groep meer inligting bekend maak, het hy gesê.
Die groep se aandeelprys het gister met 2,2% of 1c tot 46c gestyg. Dit was in April op ’n hoogtepunt van 80c.