Die wêreld se grootste myngroep, BHP Billiton, het vir ’n tweede opeenvolgende jaar produksierekords behaal vir sleutel-hulpbronne soos koper, mangaan en alumina, terwyl sy ystererts-afdeling vir die agtste agtereenvolgende jaar ’n rekord opgestel het.
Die groep se ystererts-myne het in die jaar tot einde Junie altesame 112 miljoen ton opgelewer – ’n 13%-verhoging. Die oorgrote meerderheid is in Australië gemyn met ’n klein bydrae vanaf Brasilië.
Dié syfers is vervat in Billiton se jaarlikse produksieverslag wat tradisioneel kort voor sy finansiële resultate bekend gemaak word.
Saam met sy mededingers Rio Tinto en Vale oorheers Billiton die wêreldmark vir ystererts, waarvan ’n sleutelkomponent die lewering van Australiese erts aan Asiese staalmeule is.
Billiton se mangaan-afdelings, waarvan die meerderheid in Suid-Afrika geleë is, het ook rekordproduksie behaal, sê die verslag. Ondanks die 90%-kragrantsoen wat steeds vir sy Suid-Afrikaanse mangaanmyne en smelters geld, het die groep 9% meer erts en 6% meer allooi gelewer.
Samancor, die mangaan-onderneming wat hy saam met Anglo American hier bedryf, het sy produksie met 4% tot 513 000 ton opgestoot.
Die mynreus se ander twee bedryfseenhede wat in Suid-Afrika gesetel is, was egter onder enkele afdelings wat laer produksiesyfers getoon het.
Sy kragsteenkool-afdeling het ’n 2%-daling in produksie tot 80,86 miljoen ton ervaar.
Meer as die helfte van dié laergraad-steenkool word in Suid-Afrika gemyn, maar die plaaslike produksie het met altesame 12,7% geval.
Dié groot daling volg op die verkoop van die Koornfontein-myn, effektief op die eerste dag van die betrokke boekjaar. Die lae syfer sluit egter steeds 11,3 miljoen ton steenkoolproduksie in by die Optimum-myn wat onlangs verkoop is. Billiton se Suid-Afrikaanse steenkoolproduksie sal gevolglik volgende jaar weer skerp val.
Billiton se alumina- en aluminium-afdelings, waarvan laasgenoemde meestal in Suider-Afrika gesetel is, het een van die groep se min terugslae in die jaar verteenwoordig.
Hoewel ’n rekordhoeveelheid alumina in die buiteland gemyn is, het die kragkrisis die hoogs omstrede smelters in Richardsbaai en Maputo geknou.
Die aluminium-afdeling se produksie het in die jaar met 3% geval tot 1,29 miljoen ton.
Die kragkrisis het egter eers halfpad deur die boekjaar aangebreek en die 9%-daling van net die kwartaal tot einde Junie se produksie teenoor Junie 2007 is waarskynlik ’n beter aanduiding van die kragtekort se uitwerking.