Mnr. Brian Gilbertson, voormalige uitvoerende hoof van BHP Billiton, maak Woensdag ’n welkome terugkeer na die JSE.
Hy is die voorsitter van Pallinghurst, wat met ’n markwaarde van R1,2 miljard gaan noteer.
Die groep sê hy soek nie kontant deur die notering nie, maar wil sy aandele daardeur meer verhandelbaar maak.
Van Pallinghurst se belangrikste bates is die Fabergé-handelsmerk van luukse goedere.
Die maatskappy besit ook deur een van sy filiale en saam met ander ekwiteitsvennote ’n belang van 75% in die smaragmynmaatskappy Kagem in Zambië. Die res van die aandele word deur die Zambiese regering gehou.
Benewens dié twee maatskappye het Pallinghurst ook – deur sy beleggingsbestuurmaatskappy – ’n moontlike mangaanbelegging verseker. Dit is in die vorm van ’n gesamentlike onderneming met die swartbemagtigingsgroep Ntsimbintle Mining.
Pallinghurst is in die belastingtoevlugsoord Guernsey geregistreer en is in ’n ander belastingtoevlugsoord, Bermuda, genoteer.
Volgens ’n woordvoerder van Pallinghurst is die notering in Bermuda op ’n sekondêre mark van die Bermuda-aandelebeurs waar nie geredelik verhandel word nie.
Die JSE-notering sal die groep se primêre notering wees.
Gilbertson is geen vreemdeling in die mynbousektor nie en het die multimiljard-dollar-samesmelting tussen Billiton en BHP gestuur.