Vaardigheidstekorte by SAL Tegnies (SALT), wat dekades lank een van die uitmuntendste tegniese sentrums in Afrika was, het só agteruitgegaan dat sy lugvaart-veiligheidstandaarde onder verdenking is.
Die Amerikaanse Federale Lugvaartadministrasie (FAA) en die Suid-Afrikaanse Burgerlugvaart-owerheid (BLO) het die SAL in Februarie en Maart in die stilligheid gewaarsku.
Sy tegniese afdeling voldoen nie aan die vaardigheidsvereistes vir die instandhoudingswerk aan die passasierstralers waarvoor hy verantwoordelik is nie.
En die afgelope week het twee voormalige senior bestuurders van die SALT se twee mees strategiese werkwinkels in onderhoude met Sake24 gesê hulle het ná dekades van diens bedank omdat hulle nie langer met hul gewete kon saamleef nie.
Die agteruitgang in tegniese standaarde weens die tekort aan vaardige personeel het vir hulle net te erg geword.
Volgens mnr. Colin Jordaan, uitvoerende hoof van die BLO, het die vermanings van die FAA en die BLO daarop uitgeloop dat die SAL onderneem het om intensief na kundige tegnici te soek.
“Hulle het onderneem om eerder werk uit te kontrakteer as om lugvaartveiligheid in gevaar te stel,” sê hy.
Sedertdien het toestande eerder versleg as verbeter.
Daarom het die SAL in Junie vir die eerste keer instandhoudingswerk aan ’n Airbus A340-200 uitgekontrakteer aan Taeco, ’n maatskappy in Xiamen aan die ooskus van China.
Die vliegtuig het twee weke gelede na Suid-Afrika teruggekeer met 41 instandhoudingspunte wat nie deur Taeco herstel kon word nie.
Een daarvan is ’n verroeste dwarsbalk aan die vlugraam onder die kombuis-en-toiletgange. (Berig hierby.)
Mnr. Deon Wessels, voormalige bestuurder van nie-destruktiewe inspeksies (NDI), het in November verlede jaar bedank omdat hy nie langer kans gesien het om pa te staan vir die werk van dié afdeling nie.
Die SALT is veronderstel om 19 senior NDI-inspekteurs op sy diensstaat te hê, maar op die oomblik is daar net ses.
Van hulle voldoen net drie aan die minimum vereiste van ses jaar praktiese ervaring, hoewel al ses die teorie-kursusse geslaag het.
“Hieroor gaan ’n vliegtuig nog val. Ek waarborg jou dit,” het Wessels verlede week aan Sake24 gesê.
Hy was verreweg die mees ervare en hoogs gekwalifiseerde NDI-inspekteur van die SALT en het 26 jaar vir die lugdiens gewerk.
In nie-destruktiewe inspeksies word strategies belangrike onderdele en die lugraam van ’n passasierstraler ondersoek.
Hoogs verfynde toerusting soos x-straal- en gamma-straalmasjiene word gebruik om metaalvermoeidheid en verweer op te spoor wat nie met die blote oog gesien kan word nie.
Volgens Jordaan begin die BLO aanstaande maand met ’n omvattende oudit van veiligheidstandaarde by die SALT.
“Ons gaan uiteraard heelwat aandag gee aan personeelvaardighede na aanleiding van die bevindings en uitlatings van die FAA in Februarie,” sê Jordaan, ’n voormalige hoof- tegniese vlieënier van die SAL.
Die voormalige bestuurder van die werkwinkel vir saamgestelde materiale het in Maart, kort ná die FAA se inspeksie, bedank.
Hy werk nou in ’n pos waarvoor hoë sekerheidsklaring nodig is en wil daarom nie sy naam laat publiseer nie.
Dié werkwinkel, waarin instandhouding en herstelwerk aan alle primêre vlugbeheeronderdele gedoen word, het vroeër meer as 80 personeellede gehad.
Op die oomblik is daar 27.
“Ek het elke oggend op pad werk toe geloop en wonder of al ons vliegtuie nog in die lug is.
“Ek het om geen ander rede nie bedank as dat ek nie langer daarmee kon saamleef dat ons werk nie langer op standaard is nie,” sê hy.