“Mense is honger vir Afrikaans. Veral jong mense het deesdae betekenisvolle koopkrag. Die hartklop van die Afrikaanssprekende is sterker as ooit.”
Só sê me. Ilse Smuts, bemarkingsbestuurder van Eerste Nasionale Bank (ENB) se Core Banking Solutions.
Dié finansiëledienstegroep het opnuut vanjaar sy steun as een van die hoofborge van die Pendoring-reklamewedstryd en -projek gegee en beoog om as deel van die Pendoring-span ’n daadwerklike rol te speel in die uitbou van die grootste Afrikaanse reklameprojek in sy soort.
“Afrikaanssprekendes is ’n baie belangrike deel van ENB se kliëntebasis. Hulle stel kommunikasie en dienslewering in hul moedertaal baie hoog op prys. Daarom is dit vir ons belangrik om nie net in Afrikaans met ons kliënte te kommunikeer nie, maar om ook die behoud en bevordering van die taal sodoende te ondersteun. Ons eie strewe na uitnemendheid en vindingrykheid vind aanklank by projekte soos Pendoring,” verduidelik Smuts.
ENB is en bly trots Suid-Afrikaans, beklemtoon sy. “ENB is baie positief oor die Suid-Afrikaanse en Afrikaanse reklamelandskap. Daar is beslis ’n oplewing op dié gebied te bespeur.
Afrikaanssprekendes lewer ’n sinvolle bydrae tot die ekonomie. Afrikaans as taal beleef ’n oplewing – ons sien dit in die baie nuwe Afrikaanse musiekvrystellings, konserte en verhoogproduksies.”
Wanneer Afrikaans in reklameveldtogte gebruik word, dring adverteerders deur na die hart van hul Afrikaanssprekende teikenmark, glo sy. “Dit is ’n belangrike boodskap wat Pendoring al 14 jaar lank suksesvol by Afrikaanssprekendes tuisbring: Afrikaans is veel meer as ’n taal – dit is ’n leefwyse.”
Die besluit om as borg betrokke te raak en te bly, word in ’n finansiële instelling soos ENB gewis nie op emosionele gronde geneem nie, sê mnr. Dawid Brand, Pendoring-koördineerder.
“Suiwer sakebeginsels word toegepas en berekeninge word gemaak voordat sulke verbintenisse aangegaan word – ’n bewys daarvan dat ENB nie bloot die reklamewaarde van Pendoring besef nie, maar ook die uitwerking van Afrikaans en Afrikaanssprekendes op die Suid-Afrikaanse ekonomie verstaan.”
Volgens Smuts maak Afrikaanssprekendes ’n betekenisvolle persentasie van die Suid-Afrikaanse bevolking uit en beskik ook oor ongeveer ’n kwart van die koopkrag in die land.
“Boonop is Afrikaanssprekendes naas Zoeloe- en Xhosasprekendes die grootste taalgroep in die land. Afrikaanssprekende verbruikers begin toenemend lojaliteit toon teenoor ondernemings wat respek het vir hul kliënte se taalvoorkeure.”
Ongelukkig is maatskappye wat só daaroor dink, in die minderheid. Dikwels probeer maatskappye hul kliënte ’n rat voor die oë draai deur ’n veldtog in Afrikaans te vertaal, maar gebruik dan die Engelse slagspreuk, sê mnr. Wimpie le Roux van Draftfcb, ENB se reklameagentskap. “Maatskappye bestee tyd en geld daaraan om in mense se moedertaal te kommunikeer, maar wanneer die slagspreuk in Engels is, laat dit ’n onaangename nasmaak in mense se mond. Dit kan die kommunikasie negatief beïnvloed.”
Smuts sê Afrikaanssprekendes waardeer dit wanneer maatskappye hoëgehalte-reklame in hul moedertaal gebruik.
“ ’n Maatskappy kan uitmuntende produkte of dienste lewer, maar indien hulle nie hul voordele doeltreffend kan oordra nie, sal hulle eenvoudig nie so suksesvol wees nie.”