Twee van Eskom se uitvoerende-komiteelede het bedank. Dit is die derde bedanking van ’n lid van die uitvoerende komitee sedert Februarie.
Die finansiële direkteur, mnr. Bongani Nqwababa, en die direkteur van mensehulpbronne, me. Mpho Letlape, het albei Vrydag hul bedankings ingedien. Mnr. Ehud Matya, hoof van spesiale projekte, het Eskom in Februarie verlaat. Eskom se uitvoerende komitee bestaan uit tien lede.
“Dit is ’n slag vir Eskom. ’n Baie groot slag,” erken Eskom se woordvoerder, mnr. Fanie Zulu.
“Albei dié individue het ’n sleutelrol gehad.”
Zulu sê die twee sal nog tot einde Desember by Eskom werk.
“Intussen sal daar ’n proses plaasvind om geskikte kandidate in hul plek aan te stel. Eskom sal kyk na mense binne sowel as buite die organisasie.
“Om iemand te kry wat op dieselfde vlak as die twee mense is wat ons verloor, gaan beslis nie oornag gebeur nie. Dit gaan maande vat.”
Daar is intussen aangekondig dat Nqwababa by Anglo Platinum aangestel is as dié maatskappy se finansiële direkteur. Hy sal in Januarie in die pos begin.
“Dat ’n organisasie soos Angloplat vir Bongani by Eskom kom haal het, is ’n bewys van die tipe vertroue wat daar in die sakesektor in Eskom se leierskorps geplaas word,” was al wat Zulu oor die aanstelling wou sê.
Bespiegelings oor Nqwababa se bedanking het gister rondgevlieg. Oor die bewering dat hy bedank het weens Eskom se onvermoë om finansiering te bekom op die kapitaalmarkte, sê Zulu dat dit in die huidige marksituasie vir Eskom en Nqwababa baie moeilik is om bekostigbare finansiering te verkry op die skaal wat nodig is.
Mnr. Alec Erwin, minister van openbare ondernemings, wou op ’n ontbyt in Kaapstad nie bespiegel oor die spesifieke redes vir Nqwababa se bedanking nie, behalwe om te sê hy “het ’n moeilike tyd gehad”, berig Francois Williams
.
Ander gerugte gister wou dit hê dat Nqwababa ongelukkig was by Eskom. Zulu het nie een van die gerugte bevestig nie, maar een bron na aan Eskom wat anoniem wou bly, sê die verhouding tussen Nqwababa en rolspelers wat ten nouste met Eskom saamwerk, was nie ’n gelukkige een nie.
“Bongani het waarskynlik besluit hy het genoeg gehad, en hy kan beter doen in die private sektor, met minder van die nonsens wat hy by Eskom moet hanteer,” het dié bron gister gesê.
Toe Zulu gepols is oor die verhouding van Nqwababa met die regering en ander rolspelers, het hy gesê die werk wat Nqwababa by Eskom verrig, gaan nie oor goeie verhoudings nie, dit gaan eerder daaroor om die finansiële volhoubaarheid van Eskom te verseker. “Ek weet nie hoe die verhouding tussen Bongani en die ander rolspelers was nie. Dit is wel so dat as ’n mens moet onderhandel oor die groot bedrae wat Eskom benodig, onderhandelings nogal straf kan word.”
Die verlies van Letlape is volgens Zulu ook ’n gevoelige slag.
“Sy het aangedui sy het meer ruimte nodig om haar passie na te jaag. Dit gaan hoofsaaklik oor die ontwikkeling van mense en vaardighede.”