Ryk van Niekerk
JOHANNESBURG. - Hoewel Digicore in sy afgelope boekjaar tot einde Junie 'n wesenlike toename in uitvoer na Europa en Pakistan bewerkstellig het, het die groep se winsgewendheid weens moeilike marktoestande onder druk gekom.
Die groep se omset het in die tydperk R193,7 miljoen beloop, wat heelwat laer is as die R308,4 miljoen van die vorige jaar. Die vorige jaar se omset is egter bevoordeel deur 'n eenmalige kontrak van R150 miljoen wat die groep ontvang het.
Mnr. Nick Vlok, uitvoerende adjunkvoorsitter, sê Digicore se verkope in Europa het met 83% opgeskiet. "Ons het ook die afgelope agt maande ons bedrywighede aangepas om te voldoen aan nuwe regulasies in die Europese Unie. Sonder die E4-akkreditasie moet verkopers van elektroniese toerusting in die motorbedryf hul produkte aan die Europese mark onttrek."
Hy sê 'n herontwerpte C-Trackstelsel kan weens dié onsekerheid in die mark sy markaandeel verhoog omdat daar verskeie mededingers is wat nie aan die E4-akkreditasie voldoen nie. Dié stelsel sal ook binnekort in Suid-Afrika beskikbaar wees.
Digicore se bedrywighede in Pakistan het op omsetvlak met 'n reuse-144% gegroei. Dit is grootliks daaraan te danke dat die C-Trackstelsel regstreeks in nuwe motors in Honda se monteringsaanleg in die land geïnstalleer word.
Hy sê die Suid-Afrikaanse mark het nie veel groei getoon nie. Die annuïteitsinkomste van 'n groter kliëntebasis het wesenlik toegeneem en 30% van die R16,6 miljoen se bedryfswins verteenwoordig.
Die groep se wesensverdienste per aandeel het egter met 33,9% van 10,9c tot 7,2c gedaal.
Die balansstaat toon hoër bedryfskapitaalvlakke, maar die bestuur is vol vertroue dat dit sal verminder omdat die groep onlangs 'n gevorderde JD Edwards-stelsel begin gebruik het wat die groep se verskaffingsketting meer doeltreffend sal maak. Dié stelsel het meer as R2 miljoen gekos en is in dié tydperk as 'n uitgawe aangetoon.
Die groep se kontantbronne het van R18,1 miljoen tot R20,3 miljoen verbeter.