DigiCore gaan binne maande sy internasionale bedrywighede uitbrei na Nigerië en die Midde-Ooste.
Die groep, wat vlootbestuur- en opsporingsoplossings ontwikkel, verwag ook om binnekort 'n ooreenkoms te sluit sodat sy produkte in Brasilië verkoop kan word.
DigiCore het gister aangekondig dat hy in die ses maande tot einde Desember sy omset met 14% tot R92,1 miljoen vergroot het, en die bedryfswins het met 5,6% tot R12,8 miljoen gestyg. Die wesensverdienste per aandeel is 24,4% hoër op 5,1c.
Die balansstaat lyk gesond. Hy het bykans geen skuld nie en R58,7 miljoen kontant in die bank.
Mnr. Nick Vlok, uitvoerende hoof, sê die bestuur sal op kort termyn op dié drie markte fokus. "Ons voorsien om binne 'n week 'n verspreidingsooreenkoms in Brasilië te teken en eers oor 'n maand daar aan die gang te kom.
"Ons stel ook aanstaande week DigiCore in Nigerië bekend en sal deur 'n bekendstellingstoer sowat 1 000 maatskappye te sien kry."
Vlok sê DigiCore wil sy ervaring in die Pakistanse mark uitbrei om markte in die Midde-Ooste te teiken. "Ons vaar baie goed in Pakistan en ons wil dieselfde sakemodel in Doebai en ander markte in die streek gebruik. Ons het reeds ons produkte by 'n ekspo in Doebai ten toon gestel."
Vlok voorsien dat die groep goed sal vaar in die laaste helfte van sy boekjaar. "Ek kan glad nie voorspellings waag nie, maar die bestuur se aansporingspakkette is op groei van 25% gemik."
DigiCore het onlangs aangekondig dat hy tot 40% of 71 miljoen van sy aandele teen 60c elk wil terugkoop en dan kanselleer.
Die aandeel het tot kort voor die aankondiging teen 43c verhandel. Die aandeelprys het gister met 3c tot 60c verbeter.