Petro Lowies
Met 'n opsporingskoers van byna 100% in sy twee jaar in die Pakistanse mark het DigiCore groot verwagtinge vir C-Track - sy opsporingstelsel van gesteelde voertuie.
Die groep het in die ses maande tot einde Desember R7 miljoen bestee aan die bemarking van C-Track en hy is bereid om nog R5 miljoen daaraan te bestee. DigiCore is vasbeslote om binne 'n jaar minstens 10% van die Suid-Afrikaanse mark in te palm.
Dit is juis dié R7 miljoen se bemarking wat die groep se groei van korttermyn-inkomste met 30% beïnvloed het. Nogtans het sy wins vir die vierde agtereenvolgende jaar sterk gegroei.
"Ek is vol vertroue dat die groep die goeie vertoning in die tweede helfte van die jaar en die toekoms sal kan volhou," sê mnr. Nick Vlok, uitvoerende hoof van DigiCore.
Naas 'n tussentydse dividend van byna dubbel dié van 'n jaar tevore het DigiCore ook sy bedryfswins met 70% verbeter op 'n omset wat 36% meer is.
"Ons kon die winsgrense verbeter omdat ons nie onder druk is om op prys mee te ding nie," sê Vlok. "Omdat ons oorhoofse koste ook vas is, het die maatskappy die vermoë om in die volgende jaar met gemak produksie te verdubbel sonder dat dit 'n invloed op vaste koste sal hê."
Die verbetering in bedryfswins is ook omdat hoë voorraadvlakke wesenlik verbeter is en plaaslike eenheidsverkope met 35% toegeneem het. Volgens Vlok behoort hoër motorverkoopsyfers en brandstofpry se ook 'n rol te speel in die groep se toekomstige groei.
Altesame 78% van DigiCore se inkomste toeskryfbaar aan gewone aandeelhouers is plaaslik geskep en die res word bygedra deur die oorsese filiale. DigiCore het bedrywighede in Europa en Britanje, maar hy voer ook uit na lande soos Pakistan, die Verenigde Emirate, Indonesië en Maleisië.
In Desember het DigiCore 'n belang van 50,1% in sy Britse verspreider DigiCore Limited uitgekoop. Die groep verwag dat die filiaal die volgende jaar 'n verlies sal ly. Die uitvoer na die ander markte behoort weer aansienlik toe te neem.
DigiCore het 'n tussentydse dividend van 4c per aandeel aangekondig.