En daar doen hy dit weer: die JSE se indeks van alle aandele het ’n nuwe sluitingsrekord opgestel.
Die indeks het gister met 2% voortgestoom en op 31 929,09 punte tot rus gekom. Dit is meer as 70 punte hoër as sy vorige sluitingsrekord van 31 857 punte van 16 April.
Die indeks van top-40-aandele het met 2,2% geklim.
Dit was egter nie net die JSE wat nuwe hoogtes getoets het nie. Die kontantprys van ruolie in New York het tot bo $122 per vat gestyg en die kontantprys van Brent-ruolie in Londen was hoër as $117 per vat.
Die hoër oliepryse het beleggers na goud laat spaander as skans teen inflasie. Die kontantprys van die edelmetaal is in die oggend in Londen op $878 per fynons vasgestel en teen die middag op $880 per fynons.
Goudaandele op die JSE het geskitter. AngloGold Ashanti, wat gister beter as verwagte resultate vir sy eerste kwartaal bekend gemaak het, se aandeelprys het met meer as 9% geklim tot R287. Gold Fields, wat vir ’n wyle die swartskaap onder die goues was weens ’n grusame mynongeluk verlede week, het met 3,3% verbeter tot R103.
Kommunikasie-aandele het ook gister positiewe belangstelling by beleggers ontlok. Die bespiegeling oor MTN wat dalk in die visier van ’n Indiese groep is, het dié aandeel met 6,7% gelig tot R160 – die tweede opeenvolgende rekord-sluitingsprys.
Telkom het nie op hom laat wag nie en sy prys was 5,9% hoër op R135,01. Naspers, waarvan Sake24 ’n publikasie is, se prys het met 2,9% tot R170,79 geklim.
Die twee grotes op die beurs het ook in die swart gesluit. Anglo American, die grootste aandeel ingevolge markwaarde, het met 2,2% tot R520,50 geklim. BHP Billiton was 2,3% hoër op R288,10.
Sasol het op die golf van die olieprys gery en met 5,9% tot ’n nuwe rekord van R468 gestyg. Die papier-en-pulpgroep Sappi het, te danke aan die bekendmaking van goeie kwartaalsyfers, met 4,6% tot R109,80 voortgesnel.
Op die valutamark het die rand kwaai wipplank gery. In die oggend het die plaaslike geldeenheid handelaars verras deur skielik te versterk en die vlak van R7,50 vir ’n dollar te toets, maar daarna weer teruggesak tot ’n band van tussen R7,52 en R7,54. Teen laatmiddag was die partytjie egter verby en die rand het teen marksluiting by R7,56 vir ’n dollar verhandel nadat dit in ’n stadium tot R7,60 verswak het.