Beleggers het gister blykbaar ’n blaaskans met winsneming geneem ná twee rekord-dae vir die JSE.
Die indeks van alle aandele het gister met ’n skamele 34 punte tot 31 894,69 gedaal.
Markte oor die wêreld heen het asem opgehou vir die olieprys wat steeds sonder keer voortstoom.
In New York het die prys van ruolie vir lewering in Junie tot $122,81 per vat gestyg, en daarmee Dinsdag se rekordprys van $122,74 verbeter.
In Londen het die prys van Brent-ruolie vir lewering in Junie ’n ook nuwe rekord gehaal deur net voor marksluiting tot $121,47 te spring. Die kontantprys van Brent-ruolie het ook in die loop van die dag nuwe hoogtes getoets van net onder $120 per vat.
Goldman Sachs het egter gister ’n verdoemende voorspelling oor die olieprys gemaak, naamlik dat olie vanjaar nog $200 per vat sal kos.
Op die valutamark het die dollar vir opwinding gesorg deur met meer as 1% teenoor die euro te verstewig en ’n hoogtepunt vir die dag van $1,5374 te haal.
Dit was goeie nuus vir die rand wat tot R7,4870 teenoor die dollar verstewig het. Teen marksluiting het die rand tot R7,5222 teruggesak.
Ook teenoor die euro en die pond het die rand sterk gestaan. Die rand het meer as 10c teenoor die pond gewen en tot R14,70 vir ’n pond verstewig. Teenoor die euro het die rand meer as 14c gewen en tot R11,59 verstewig.
Die hoër olieprys kon nie gister daarin slaag om edelmetale saam op te trek nie. Die kontantprys van goud is in die oggend in Londen op $874 per fyn ons vasgestel, waarna dit met die middagvasstelling tot $868,25 teruggesak het. Platinum se kontantprys is in die oggend op $1 945 per ons vasgestel en in die middag op $1 930.
Onder gister se wenners op die JSE was die gediversifiseerde nywerheidsgroep Bidvest met ’n styging van meer as 4% tot R115. Sy mededinger Barloworld het met 3,5% tot R111 geklim. Die internasionale meubelgroep Steinhoff het ’n toename van byna 3% tot R18,69 getoon, terwyl die konstruksiegroep WBHO met 5,4% tot R129,92 geklim het.
Onder die verloorders was Anglo American met ’n daling van 1 250c tot R508, Harmony wat 2,4% laer op R88,90 gesluit het en DRDGold wat ’n loesing van meer as 3% tot R5,74 gekry het.