Die JSE se indeks van alle aandele het gister behoorlik vlam gevat en sy tweede hoogtepunt in die week aangeteken.
Die 32 000-vlak is reeds in vroegoggendverhandelings oorgesteek en is deur die dag volgehou. Die uiteindelike sluiting was op 32 153,48; 258,79 punte hoër as eergister. Die vorige sluitingshoogtepunt was Dinsdag se 31 929,09.
Die JSE se vertoning is merkwaardig, veral as ’n mens in ag neem die jaar-laagtepunt van 25 135,13 punte is skaars vier maande gelede op 23 Januarie aangeteken.
Die JSE is veral gesteun deur ’n sterk vraag na hulpbronaandele in reaksie op die hoër platinumprys. Platinum het met 3% geklim tot ’n 2-weke-hoogtepunt van $2 013,50 per ons voordat die prys effens teruggesak het tot $2 010,50.
Gevolglik het platinumaandele goed vertoon. Lonmin het met 6,46% geklim tot R505,99 terwyl Implats met 3,03% gestyg het tot R331. Die algehele platinumindeks het met 2,68% gestyg tot 134,91.
Die swaargewigte Anglo American en BHP Billiton het ook ’n groot bydrae gelewer tot die JSE se hoogtepunt. Anglo het sy verswakking van die vorige dag omgekeer en het met 1,48% verstewig tot R515,54. Billiton het met 3,74% geklim tot R292,57 per aandeel.
Die goudprys het ook sterk gegroei en die dag afgesluit op $872,25 per fynons. Gold Fields se aandeelprys het met 2,52% gestyg tot R102,75. Gold Fields se jaar-hoogtepunt was op 17 Maart vanjaar toe die aandeel R137,40 gekos het.
Die rand het effens verswak teenoor die dollar, die euro en die pond en geëindig op R7,59 vir die Amerikaanse geldeenheid. ’n Pond het R14,87 gekos en ’n euro R11,72.
Die prys van Brent-ruolie bring met ’n verdere styging van 1,52% nog onheilspellende nuus vir brandstofpryse. Teen 17:00 het ’n vat Brent-ruolie in Londen $121,99 gekos.
Die aandeelprys van African Bank Investments Limited (Abil) het gesluit op R24,81. Hoewel dit ’n effense verstewiging van 0,45% verteenwoordig, beleef die groep se aandeel sedert die aankondiging van sy Ellerines-oorname ’n insinking. Abil het Woensdag aangekondig dat verdere voorsienings as deel van die transaksie nodig is.
Wêreldwyd het ander beurse in teenstelling met die JSE ’n dowwe dag gehad.
Die FTSE in Londen het met 0,22% gedaal tot 6 247,20 punte. In Duitsland het die DAX met 0,82% gedaal tot 7 039. In Tokio het die Nikkei met 1,13% gedaal tot 13 943 punte. Die Nasdaq in die VSA het met 1,66% gedaal tot 2 451.