’n Week van hoogtepunte het die JSE lus gemaak vir nóg. Die indeks van alle aandele het gister weer in ’n stadium aan ’n nuwe hoogtepunt van 32 440,90 geraak, net om weer terug te val tot 32 136,15 punte, ’n daling van 0,05% sedert gister.
Al die groot indekse het gister maar swaar getrek, met slegs die indeks van top-25-nywerheidsmaatskappye wat stewiger gesluit het met ’n skamele 0,17%-styging tot 21 189,08.
Baie groot rolspelers het hoër aandeelpryse behaal, en selfs op hoogtepunte verbeter. Een hiervan is BHP Billiton wat eergister se jaar-hoogtepunt van R296,84 met 0,21% verbeter het met sy sluitingsprys van R297,32 nadat hy kortstondig op R299,77 was.
’n Volle R50 lê egter tussen die ander reus op die beurs, Anglo American, en sy hoogtepunt wat in Maart bereik is. Die prys van dié aandele het gister met 1,17% teruggesak tot R509,50.
Die goudindeks het gister 56,71 punte of 2,3% hoër gesluit op 2 517,02. Die platinumindeks was 1,47 punte of 1,09 hoër op 136,38.
Die prys van platinum het gister sy beste vlak in sewe weke behaal ná ’n 4%-styging vroeg die oggend. Platinum het teen laatmiddag R2 062,50 per ons gekos. Goud, wat die week ook hoë vlakke bereik het, se prys het later die middag teruggeval tot R874,90 per fynons.
Die rand het vroeg teruggesak ná eergister se goeie vertoning teenoor die dollar. Die rand het gister teen 17:00 op R7,694 teenoor die Amerikaanse geldeenheid verhandel.
Daar was ’n hele paar uitblinkers op die beurs.
DRDGold het die sterkste groei in twee jaar getoon nadat bekend gemaak is dat kostebesnoeiing en rekordpryse vir goud sy wins in die derde kwartaal verhoog het. Die groep het egter ook bekend gemaak dat produksie in die derde kwartaal 9% laer was as gevolg van hoofsaaklik die kragkrisis.
DRD het 11,51% hoër gesluit op R6,59.
Barloworld-aandele het ook goed gevaar. Dít volg op die nuus dat groep se wesensverdienste per aandeel in die eerste helfte van die jaar tot 110% hoër kan wees. Die groep se aandeelprys het 3,34% hoër gesluit op R114,60.
Die verbruikersgoederegroep Tiger Brands het 2,73% hoër gesluit op R155,30. Dié groep het gister ingestem om ’n R53,5 miljoen- administratiewe boete te betaal vir vermeende teenmededingende praktyke by Adcock Ingram Critical Care, die groep se gesondheidsfiliaal.
Groot vraagtekens hang steeds oor die onderhandelinge tussen MTN en die Indiese groep
Bharti Airtel. MTN-aandele het gister 0,78% laer gesluit op R153,30.
Die res van die wêreld kan werklik jaloers wees op die JSE se goeie vertoning.
’n Negatiewe stemming het oral geheers met slegs die Australiese All Ordinaries en die Nasdaq in die VSA wat groei getoon het.