Die JSE se indeks van alle aandele het gisteraand in die laaste minuut van verhandeling net-net uit die rooi beweeg.
Die indeks het met 9 punte hoër op 32 145,49 gesluit. Die indeks van top-40 aandele was 0,08% hoër.
Van die groot sektorale indekse het die indeks van top-25 nywerheidsaandele daarin geslaag om die grootste toename te toon – met 0,8%. Dit was hoofsaaklik te danke aan MTN en Sasol.
Gerugte dat Afrika se grootste selfoonoperateur, MTN, die teiken van ’n oorname is, het sy aandeelprys met 3,7% gehelp tot R159. Telkom was met 100c hoër op R135.
Op die kommoditeitsmark het goud effe helderder geblink. In die oggend is die kontantprys van dié edelmetaal in Londen op $882,50 per fynons vasgestel en in die middag was dit $1 hoër op $883,50.
Die goudindeks het gevolglik met 0,5% geklim. AngloGold Ashanti was met byna 2,5% hoër op R310,50 en DRDGold het 2,4% gewen tot R6,75. Gold Fields kon nie in die pret deel nie en het met 1,1% tot R104,26 gedaal met Harmony wat ook in daalgebied was en 0,5% tot R95 verloor het.
Die kontantprys van platinum het tussen die oggend- en middagvasstelling in Londen met $9 per ons tot $2 054 gestyg.
Die prys van Brent-ruolie vir lewering in Junie het ietwat teruggesak van sy hoogtepunt van $125,90 per vat wat Vrydag gehaal is. Teen laatmiddag het die kontrakte teen $124,60 per vat in Londen verhandel.
Op die valutamark het die rand gister weer eens van sy merkwaardige versterkings teenoor die dollar aangeteken.
Die rand het in ’n stadium met soveel as 1,5% teenoor die dollar veld gewen en so sterk as R7,62 vir ’n dollar verhandel ná ’n laagtepunt van R7,74. Hernieude vertroue in riskante markte asook die MTN-praatjies – wat ’n moontlike invloei van $20 miljard kan beteken – het die rand ondersteun.
Die dollar het nie soos die rand presteer nie. Die Amerikaanse geldeenheid het in ’n stadium so sterk as $1,5367 vir ’n euro verhandel en daarna met 1% tot so laag as $1,5501 gegly.
Op die plaaslike aandelemark het finansiële aandele hul powere vertoning voortgesit en die indeks van top-15 finansiële aandele het met 0,45% gedaal.
Standard Bank, die grootste bank in Afrika, was die enigste bank wat in die swart kon sluit met ’n styging van 31c tot R88,80.
FirstRand was met 10c laer op R15,45 en Absa het 1,2% tot R90,90 ingeboet. Investec het aandeelhouers teleurgestel deur met 1,9% tot R56,50 te daal en Nedbank was met byna 1,1% laer op R111,10. Rand-Aksepbank het 0,4% verloor tot R24,85.