Suid-Afrika se goudproduksie vir Maart het op ’n jaargrondslag met 10,9% gedaal vergeleke met Maart verlede jaar, het Reuters gister berig.
Dit verteenwoordig ’n algehele daling in goudverkope van R3,39 miljard of 1,3%.
Die impak van die kragverskaffer Eskom se kragbesnoeiingsbeleid vir myne speel ’n groot rol hierin.
Die goudprys het in Londen teruggesak tot $865 per ons. Dié daling van byna 2% is grootliks die gevolg van die verhoogde verkope van goudreserwes vanweë gister se versterking van die dollar teenoor die euro.
Een euro sou teen laatmiddag $1,54 (sowat 1,09% meer) gekos het.
Platinum het selfs slegter gevaar en het met byna 3% gedaal deur die dag. Platinum het die dag gesluit op $2 050 per ons. Eergister het die metaal nog verhandel teen $2 103 per ons.
Platinumaandele het gevolglik die slag gevoel en verswak.
Lonmin het met 2,59% gedaal en gesluit op R492,89. Implats het 3,07% laer gesluit op R332.
Die platinumindeks het met 2,58% gedaal tot 130,82 punte.
Die JSE se indeks van alle aandele het swakker gevaar en teen sluitingstyd kort duskant die 32 000-kerf op 31 999,02 punte gestaan.
In Londen het die FTSE onder druk gekom weens kommer oor inflasie in Brittanje.
Voedsel- en brandstofpryse het verbruikersprysinflasie in Brittanje opgestoot met die grootste persentasie in ses jaar om dit bo die teiken van ’n 2%-inflasiekoers te laat eindig.
Die Nasdaq-beurs in die VSA het sterker gestaan en het met 0,43% verstewig tot 2 475 punte. In Parys, Frankryk, het die CAC-40 gesluit op 4991,6 punte, sowat 0,34% sterker as eergister se sluiting.
Die olieprys het met byna $3 gedaal tot $121,80 per vat Brent-ruolie. Eergister het Brent-ruolie $124,17 per vat gekos.
Terug op die JSE, het die selfoonreus MTN effe verswak met 0,63% en gesluit op R158 per aandeel. Dié aandeel se jaar-hoogtepunt was R165 en is verlede week behaal.
Imperial het vandag met ’n verdere 1,08% verswak om sy jaar-laagtepunt van R57,87 per aandeel te behaal. Die aandeel se jaar-hoogtepunt was op 23 Mei 2007 toe Imperial-aandele R164,44 elk gekos het.
Daar moet egter gelet word op die effek wat die ontknoping van Imperial se filiaal Eqstra op die maatskappy se aandeelprys gehad het. Eqstra is eergister genoteer en is uit Imperial ontknoop teen R16 per aandeel. Eqstra het gister gesluit op R16,50.
Barloworld het R111,50 gesluit.