Olie is fundamenteel oorgewaardeer.
Só het mnr. Walter de Wet, hulpbronnenavorser by Standard Bank, gister op die Afrika-kommoditeitsforum gesê.
Sy opmerking kom ’n dag nadat Merrill Lynch die bevindings van ’n opname onder 191 fondsbestuurders wêreldwyd uitgereik het.
Hierin word gesê Europese fondsbestuurders het hul “entoesiasme vir hulpbronhandel herontdek”. Goldman Sachs het ook verlede week voorspel dat die wêreld teen die einde van die jaar oliepryse van tussen $180 en $200 per vat kan beleef. Dit sal beteken dat die pompprys van 95 oktaan loodvrye petrol teen vanjaar se Kerstyd in Gauteng tussen R15 en R16,50 per liter, indien nie meer nie, sal wees indien die rand-dollarwisselkoers konstant bly.
“In die verlede het ons gesien dat wat Goldman Sachs sien, tipies waar word,” het De Wet gesê.
Hy meen egter steeds olie is oorgewaardeer en dat spekulasie vir tot tussen $15 en $20 per vat in die huidige prys sorg, maar waarsku teen skielike verkope van oliekontrakte. “Ek sou nie kort gaan met olie nie. Ek dink nie dit is slim nie.”
Die prys van Brent-ruolie het die afgelope 12 maande met 73% toegeneem terwyl dit sedert die begin van die jaar reeds ’n derde hoër is.
“Die roekelose vraag na voedsel en infrastruktuur in ontwikkelende lande beteken dat hulpbronne, en nie arbeid nie, die skaars hulpbronne in dié (ekonomiese) siklus is.
“En hierdie skaarsheid beteken prysbepalingsmag,” sê me. Karen Olney, Merrill Lynch se hoof-ekwiteitstrateeg in Europa.
De Wet is nie so optimisties oor die vooruitsigte van die olieprys nie. “Die prys van olie kan val, maar nie tot $80 per vat nie omdat daar konstant verskaffingsprobleme is. En as die prys afkom, sal die Organisasie van Petroleum-uitvoerlande (Opul) produksie verlaag.”
Volgens hom sal hierdie situasie voortduur totdat olieprodusente wat nie deel van Opul is nie, nuwe olievelde ontdek.
Dit is onwaarskynlik dat dít sal gebeur.
Die gemenebes van onafhanklike state, oftewel GOS (die lande van die eertydse Sowjet-unie), is die grootste produsent van olie buite Opul.
“Die GOS het onlangs bekend gemaak dat hy sy piekproduksie bereik het,” het De Wet gesê.
Maar kan die wêreld ’n skielike en skerp afname en daarna ’n lae olieprys kry soos ná die olieskok van die laat 1970’s en begin 1980’s? “Aan die begin van die 1980’s was daar baie onontwikkelde olievelde wat nie meer vandag die geval is nie,” sê hy. “Ons sit ook nou met 3 miljard mense wat opbeweeg deur ontwikkeling. Daar was ook nie destyds die groot spekulatiewe komponent wat daar vandag is nie.”
De Wet sê sy siening dat olie oorgewaardeer is, berus daarop dat die VSA se vraag na olie aan die daal is en dat China se ekonomie nie meer so vinnig groei soos in die onlangse verlede nie.
“Daarby sit die wêreld met genoeg voorraadvlakke. Dan is olie oorgewaardeer, maar nie soveel dat dit tot $80 per vat sal afkom nie.”