Te midde van donker ekonomiese wolke van hoër inflasie en rentekoerse wat saampak, het die JSE gister voortgestoom tot sy tweede hoogtepunt vir die week en die vierde vir Mei.
Beleggers gee kennelik nie gehoor aan die frase “Sell in May and go away” nie, met die vraag na hulpbronaandele en uitgesoekte gunstelinge soos Sasol en Richemont wat die mark tot nuwe hoogtes gedryf het.
Die indeks van alle aandele het op 32 647,43 punte gesluit, 260,42 punte of 0,8% hoër as Woensdag se hoogtepunt van 32 387,01. Die indeks het op 6 Mei ’n hoogtepunt van 31 929,09 punte aangeteken en dit opgevolg met ’n eerste bo 32 000 twee dae later.
Gister se merkwaardige vertoning beteken die JSE is nou reeds bykans 30% stewiger as met die tuimeling op 23 Januarie en 11,5% hoër as die eerste verhandelingsdag van die jaar op 2 Januarie.
Die twee groot hulpbronstrydrosse, Anglo American en BHP Billiton, was veral in aanvraag by buitelandse kopers wat meen die bullopie in hulpbronne het nog nie geëindig nie. BHP Billiton het in ’n stadium op ’n nuwe hoogtepunt van R315,95 verhandel, maar die dag afgesluit op R310,87, dus 50c of 0,16% stewiger. Anglo se aandeelprys was 651c of 1,295 hoër op R503,50.
Sy prys-verdienste-veelvoud (p/v) is teen 13,27 steeds laer as die markgemiddelde van 16,3, terwyl BHP Billiton se 19,7 nie veel hoër is nie. Saam vorm die twee aandele ’n derde van die JSE se markwaarde, met BHP Billiton nou sowat R25 miljard groter as Anglo.
Platinumaandele is ook stewig verhandel, met Anglo Platinum se aandeelprys 3 200c of 2,44% hoër op R1 329,98 en Implats s’n 698c of 2,11% hoër op R337,98.
Imara S.P. Reid sê in ’n navorsingsnota die JSE is tans ’n verhaal van drie markte. Die hulpbronsektor groei sterk, met die finansiële en nywerheidsektore wat waarskynlik te ver oorverkoop is te midde van verwagte laer verbruikersbesteding en hoër rentekoerse.
Banke het gister verder agteruitgeboer, met Absa 30c of 0,32% swakker op R92,77. Credit Suisse Standard Sekuriteite raai beleggers steeds aan om “kort”- of verkoopsgesind met die aandeel te wees en eers by R90 ’n kopie te oorweeg. Standard Bank was 80c of 0,92% swakker op R86,60.
Investec het met 75c of 1,35% kop opgetel tot R56,15 nadat dié aandeel duidelik oorverkoop was.
SABMiller se jaarresultate is goed ontvang en sy prys was 650c of 3,6% stewiger op R185,50. MTN het daarenteen ná die hewige aankope vroeër ’n verposing geneem tot R153,40, 158c of 1% swakker.
Sasol het met 1 040c of 2,17% tot R489,90 opgeskiet en Richemont was 51c of 1,04% stewiger op R49,51.