Die JSE se indeks van alle aandele is nou ook soos Wall Street amptelik in ’n beermark.
Die indeks het gister 0,61% swakker op 26 913,14 punte gesluit, nie te ver van die laagtepunt in die week van Swart Maandag in Januarie nie, toe 25 135,13 punte aangeteken is. Vergeleke met die hoogtepunt op 21 Mei van 32 907,72 punte, is die indeks nou 22,2% swakker, wat voldoen aan die definisie van ’n beermark.
Gister se daling is veroorsaak deur stewige verkope van hulpbronaandele, veral in die platinumsektor.
Terselfdertyd het oorverkoopte bankaandele kop opgetel met Standard Bank 6,5% hoër en Absa 9,8%. Die top-15 finansiële indeks was 5,68% stewiger.
Volgens ontleders is dit die gevolg van batetoewysings wat van duurder hulpbronne na goedkoper bankaandele verskuif word. Die rand het gedreig om deur R7,60 teenoor die dollar te druk in reaksie op die swakker dollar. Die dollar het eergister ’n nuwe laagtepunte van $1,60 teenoor die euro bereik.
Tesame met ’n verdere daling in die Brent-ruolieprys tot $132,90 per vat kan lang verwagte verligting vir vuisvoos petrolverbruikers om die draai lê.
Rand-Aksepbank sê in sy valuta-oorsig die rand kry ook ondersteuning van nuwe gerugte dat ’n MTN-transaksie tóg op hande kan wees.