Nog nie koud nie.
Die rand het gister sy kragtoer teen die dollar voortgesit en deur R7,50 tot R7,4974 verstewig in wat deur ekonome as verbasende sterkte bestempel is.
Die rand het ook teen die euro tot onder R12 versterk, tot so laag as R11,89.
Die rand ry grootliks op die golf van die swakker dollar, maar korporatiewe aksie, soos die Adcock Ingram-transaksie en buitelandse beleggingsbesluite van Dimension Data, ondersteun ook die rand.
Mnr. Rian le Roux, ekonoom by Omigsa-batebestuurders in die Ou Mutual-stal, sê hoewel die rand sterker as verwag vertoon in die huidige beerstemming, kan dit uiteindelik grootliks sywaarts beweeg. “Daarby moet in ag geneem word dat die rand heelwat meer verswak het as ander geldeenhede, soos die Brasiliaanse real en die Australiese dollar.”
Verrassings is teen dié agtergrond moontlik.
Die rand is ook ondersteun deur die positiewe nuus uit Zimbabwe, waar die vernaamste politieke partye ’n memorandum van verstandhouding onderteken het. Rand-Aksepbank (RAB) sê in sy daaglikse oorsig ’n positiewe omswaai is reeds eergister verwag in reaksie daarop.
Hulle meen nie die momentum van die rand is gebreek nie. “Ons het voorheen verswakkende sessies gesien, waarna die rand weer omgeswaai het.”
Tegniese ontledings wys ’n lopie onder R7,49 kan moeilik wees omdat invoerbestellings hoog is. Daarenteen vorm R7,63 ’n belangrike weerstandsvlak op die afdraande pad.
Ontleders wys daarop dat drahandel-transaksies, sowel as verminderde risiko-oorwegings by beleggers in ontwikkelde markte jeens ontwikkelende lande, die rand tans stut. Eintlik behoort die rand onder druk te wees te oordeel na stygende opbrengskoerse in die kapitaalmark, wat op buitelandse verkope dui.
Statistieke van die JSE wys buitelandse netto-verkope het verlede week R1 miljard beloop teenoor netto-aankope van R792 miljoen in die ooreenstemmende week in 2007. Totale buitelandse netto-verkope vir die jaar tot sover is R6,1 miljard teenoor netto-aankope van R49,7 miljard vir dieselfde tyd in 2007.