“Ons is baie opgewonde en vasbeslote om ons aansien in ere te herstel.”
Só sê dr. Jonathan Louw, uitvoerende hoof van die farmaseutiese groep Adcock Ingram oor dié maatskappy se notering Maandag op die JSE se hoofbord.
Adcock is in November verlede jaar van Tiger Brands ontknoop want Tiger wil net op verbruiksgoedere met ’n vinnige omset fokus. Adcock sou in Maart vanjaar noteer, maar het dit uitgestel weens sy oortredings van die Wet op Mededinging.
Sy hospitaalprodukte-afdeling, Adcock Ingram Critical Care, is vroeër vanjaar skuldig bevind aan kartelgedrag.
Adcock Ingram Critical Care het met ander maatskappye saamgespan om pryse vas te stel en tenders te manipuleer. Hy is met R53 miljoen, 8% van sy omset, beboet.
Adcock Ingram was sowat twee weke gelede ook in die nuus toe hy twee besendings van sy antiretrovirale middels aan die mark onttrek het omdat dit die verkeerde verpakking gehad het.
Ondanks dié negatiewe publisiteit is Louw steeds positief oor Adcock se rol in Suid-Afrika.
“Hoewel ons planne het om in Afrika en internasionaal uit te brei, is ons vir eers amper meedoënloos gefokus op groei in Suid-Afrika,” het hy gister tydens ’n voorlegging gesê.
Adcock vervaardig toonbankmedisyne, waaronder Panado en Corenza C, sowel as voorskrifmedikasie, soos Myprodol en antiretrovirale middels.
Hy het toegegee dat die Suid-Afrikaanse mark oorheers word deur internasionale maatskappye, maar wil ’n “wêreldwye mededingende voordeel” vir die onderneming in Suid-Afrika skep.
Onsekerheid en regulering in die plaaslike farmaseutiese bedryf is volgens hom die grootste uitdagings vir groei, maar hy het bygevoeg dat regulering wêreldwyd ’n uitdaging is.
Die direksie is positief dat die maatskappy nie weer ’n draai by die Mededingingskommissie gaan maak nie.
“Dit was ’n ongelukkige voorval, maar ons het beheermaatreëls ingestel om te verhinder dat dit weer gebeur,” het Louw gesê.
Louw wou nie bespiegel oor ’n moontlike markwaarde nie, aangesien die maatskappy belange in te veel verskillende sektore het.