Die olieprys het gister gestabiliseer ná eergister se groot skrik.
Brent-ruolie het in die namiddag teen $115,95 per vat verhandel nadat dit die vorige dag opnuut tot bo $120 opgeskiet het uit vrees dat die VSA en Rusland in ’n konfliksituasie oor Georgië kan beland. Dit kan die belangrike olietoevoernetwerk tussen die Kaspiese en die Swart See negatief beïnvloed.
Die olieprys reageer nou minder op internasionale spanning as vroeër die jaar, toe die geringste gebeurtenis, soos ’n ontvoering in die Niger-delta, spekulante die geleentheid gegee het om die prys op te druk.
Sedert 30 Junie – toe dit ’n hoogtepunt van $138,05 per vat aangeteken het – daal die prys van Brent-ruolie stelselmatig.
Mnr. Jeremy Gardiner, direkteur van Investec Batebestuur, meen die rug van hoër oliepryse is gebreek. “Ons behoort op kort termyn verligting tot $100 te ervaar,” sê hy. Die prys kan wel kortstondig tot $150 of selfs $175 opskiet, maar behoort daarna weer te daal, sê Gardiner.
Verbruikers het gister ook goeie nuus gekry toe die rand met die laer olieprys saamgespeel het. Die rand het in reaksie op die stewiger hulpbronpryse en ’n swakker dollar die grootste deel van die dag teen tussen R7,65 en R7,70 verhandel. Rand-Aksepbank verwag dat die rand vir eers op R7,60 tot R7,75 sal bly. Die gemiddelde oorverhaling op ’n liter loodvrye brandstof was Donderdag 105c.