En dit duur voort!
Die wêreld het vanoggend wakker geword met ’n hernieude slagting op die aandelebeurse.
So groot is die tuimelinge dat verhandelinge op aandelebeurse in Rusland, Ysland, Thailand, Indonesië, Oostenryk en Roemenië opgeskort is, berig AFP.
In die Ooste het die Nikkei verdere reuse-dalings beleef.
Op die plaaslike mark het die JSE se indeks van alle aandele in middagverhandelinge met 4,14% geval om op 20 373 punte te staan.
Beleggers het hul fondse opnuut uit ontluikende markte onttrek en dit het die rand duur gekos. Die wisselkoers het vanoggend met 4,6% of meer as 40c vir ’n dollar tot ’n nuwe sesjaar-laagtepunt van R9,50 getuimel. Die geldeenheid het in middagverhandelinge ietwat versterk en het teen R9,29 teenoor die dollar verhandel.
Al die Europese markte het in die rooi geopen en die FTSE 100, CAC 40 en DAX was met tussen 6% en 7% in die rooi.