Die wêreld sal vandag weet hóé die finansiële markte gaan reageer op wêreldleiers se nuutste pogings om ’n ekonomiese wegsmelting af te weer.
In ’n besige naweek vir politieke leiers het die groep van 20-lande (G20), wat 85% van die wêreld se ekonomiese bedrywighede verteenwoordig, in Washington gesê hulle het ooreengekom om “alle finansiële en ekonomiese” maatreëls in te span waarmee die ekonomiese storm getrotseer kan word.
Dit kom ná ’n week waartydens die kapitalisasie van onder meer die Japanse Nikkei-indeks en die Dow Jones met onderskeidelik 24,3% en 18,2% gedaal het. Suid-Afrika se JSE het self 9,2% se waarde ingeboet (sien Markoorsig op Sake24 se agterblad).
Die krisis volg op die likwidasie-aansoek van die Amerikaanse beleggingsbank Lehman Brothers in September, asook verskeie ander finansiële instellings wat ook sedertdien hul deure moes toemaak, of ’n reddingsboei van belastingbetalersgeld moes ontvang.
Die G20-lande het ’n vyfpunt-reddingsplan waarop vroeër die naweek deur die groep van sewe-nywerheidslande (G7) ooreengekom is, aanvaar.
Die presiese besonderhede van die plan is steeds vaag, maar in die breë verbind regerings hulle daartoe om belangrike finansiële instellings met belastingbetalersgeld te ondersteun, kredietuitreiking tussen banke aan te moedig en die vrese van spaarders (wat bang is hul spaargeld gaan tot niet indien ’n instelling sou vou) te besweer.
Die G20-lande het gesê hul ingrypings “sal deeglik gekommunikeer word sodat die aksie van een land nie tot die nadeel van ’n ander (sal strek nie), of die stabiliteit van die stelsel as ’n geheel sal ondermyn nie”.
Gister het die 15 nasies waar die euro as betaalmiddel gebruik word, asook Brittanje, in Parys, Frankryk, byeengekom om oor die besonderhede van húl reddingsplan te onderhandel.
Me. Christine Lagarde, die Franse minister van finansies, het belowe dat die wêreld “nie teleurgesteld sal wees” oor die maatreëls wat beplan word nie.
Terwyl detail nog ontbreek, is daar tekens dat dié groep Britse maatreëls wil nadoen waarvolgens die staat borg staan vir lenings tussen banke, en belange in banke koop. Die Britse regering kan reeds vandag aankondig dat hy ’n beherende belang in Royal Bank of Scotland en HBOS gaan verkry.
Kommentators sê dit is van die uiterste belang dat lande hul pogings om die huidige finansiële krisis die hoof te bied, koördineer, ten einde te keer dat die stappe van een land negatiewe gevolge vir ’n ander inhou.
Gedurende die Groot Depressie van die 1930’s het die eensydige stappe van sommige lande die ekonomiese pyn van ander vererger.
Elders het die regerings van Australië en die Verenigde Arabiese Emirate ook die naweek gesê hulle sal as borg optree vir alle spaargeld wat in plaaslike banke gehou word.