Aandelemarkte het ’n tweede dag agtereenvolgens opwaarts gebeur te danke aan vertroue wat drupsgewys na die finansiële stelsel terugkeer.
Dit is klaarblyklik in antwoord op die reuse-reddingspakkette wat deur die VSA, Brittanje en ander Europese lande aangekondig is en die Internasio- nale Monetêre Fonds (IMF) se naweek-aankondiging dat hy reuse-bedrae vir ontluikende markte sal bewillig.
Pres. George W. Bush van die VSA het gisteraand aangekondig dat die regering $250 miljard se skuld en aandele in sommige van die land se grootste banke sal koop. Dit vorm deel van die $700 miljard-pakket wat vroeër deur die Amerikaanse kongres goedgekeur is, berig die BBC.
Mnr. Francois Venter, handelaar by Investec, stem saam.
“Vertroue neem toe en dit lyk of markte die pakkette vertrou.”
Die JSE se indeks van alle aandele het gister met 3,1% tot 22 117,06 punte geklim.
Die rand het ook goed herstel en van ’n daglaagtepunt van R9,23 vir ’n dollar tot ’n daghoogtepunt van R8,82 verstewig, maar laatmiddag weer tot R9 verswak.
“Die rand se sterkte is toe te skryf aan dollarswakte,” sê Venter met verwysing na die dollar wat gister laat met 1% tot $1,36 teen die euro verswak het.
Volgens hom is verlede week se dollarsterkte aangedryf deur die skaarste aan dollars toe banke nie aan mekaar geleen het nie.
“Dollars raak egter nou minder skaars. Dit lei tot ’n swakker dollar,” sê Venter.
In die internasionale arena het markte geblom.
Die Nikkei-indeks in Tokio het sy grootste dagstyging in die geskiedenis beleef toe dit met meer as 14% gespring het.
Ander Oosterse markte het ook goed gevaar en die Suid-Koreaanse Kospi-indeks was 6,1% op, terwyl die hoofindeks van die Thaise aandelebeurs met 5,6% geklim het.
Selfs in Europa, waar verskeie ekonomieë deur ’n resessie gekonfronteer word, het aandelebeurse hoër gesluit.
Die DAX 30 in Frankfurt het 2,7% stewiger gestaan, die Paryse CAC 40 was 2,75% hoër en die FTSE 100 in Londen was 3,32% in die groen.
Wall Street het aanvanklik positief geopen, maar later stoom verloor. Teen gistermiddag laat het die Dow Jones 0,3% gewen en was die S&P 500 0,1% in die groen.
Daar is egter twyfel oor hoe volhoubaar dié tendens is.
“Ons sal moet wag en sien hoe lank die mark gaan bons,” sê mnr. Rudi van der Merwe, beleggingshoof van Standard Bank Equity Advisory Services.
“ ’n Mens tower nie $1 300 miljard (die totale waarde van die reddingspakkette) sommer net so op nie en dít sál stagnasie veroorsaak.”
Volgens Venter behoort die huidige oplewing nog ’n dag of twee te hou.
“Daar sal ’n oog op die besonderhede van die Amerikaanse en Europese reddingsplanne gehou word,” sê hy.
Die meeste van die ryk ontwikkelde lande wat reddingspakkette aangekondig het, het ten doel om ’n belang, byvoorbeeld deur voorkeuraandele, in beleërde en kapitaalarm banke op te neem.
“Die rentekoers op voorkeuraandele is in die algemeen hoër as waarteen die banke geld kan leen,” sê Van der Merwe.
“Ek vertrou nie die plan nie. Dit maak my ontsettend senuagtig.”
Volgens Venter is daar in sommige oorde skeptisisme oor die plan. “Die skeptisisme is ten opsigte van wat presies met die geld gedoen gaan word,” sê hy.
Van der Merwe meen nie die resessiespook sal gou gaan lê nie.
Die IMF het verlede week gesê daar is ’n 60%-kans dat die wêreldekonomie binne drie maande in ’n resessie sal beland.
“Die resessie is nie afgeweer nie,” sê Van der Merwe. “Die onderliggende probleme is steeds daar en veral die probleme in die Amerikaanse huismark het nog nie verdwyn nie.”
Dr. Prieur du Plessis, uitvoerende voorsitter van Plexus-batebestuur, sê die aard van die wêreld se finansiële stelsel is deur die krisis verander.
“Die storm is dalk verby aangesien die regerings van die groot moondhede aandag gee aan die wortel van die probleem, maar die skuldkrisisorkaan laat sy spore van verwoesting aangesien die dyke van die wêreld se finansiële stelsel gebreek het,” sê hy.
“Niks in die finansiële markte sal ooit weer dieselfde wees nie.”