Ekstra sente wat gister se begroting vir Suid-Afrikaners in die sak gebring het, sal binnekort opgeslurp word deur hul brandstoftenk.
Die kombinasie van rekordhoë oliepryse en die rand se verswakking sal heel waarskynlik hoër petrol- en dieselpryse in die komende maande beteken.
Daarbenewens het mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, gister ’n ekstra 11c-heffing op elke liter petrol aangekondig.
Volgens sy begrotingstoespraak gaan die belasting op brandstof met 6c toeneem, terwyl die bydrae tot die padongelukkefonds (POF) met 5c sal toeneem.
Dit kom saam met die verwagting dat die prys van petrol en diesel op 5 Maart met tot 50c hoër deur die departement van minerale en energie vasgestel sal word. Die gemiddelde onderverhaling van petrol het teen 18 Februarie 45c per liter bereik.
Diesel is onder nóg meer druk omdat die elektrisiteitskrisis baie ondernemings en individue daartoe gedryf het om kragopwekkers te koop. Vroeër die maand was die onderverhaling op diesel ongeveer 50c. Op 18 Februarie is diesel met 84,534c onderverhaal, met ’n gemiddelde onderverhaling van 56,354c oor die maand. Onderverhaling word gebruik as ’n aanduiding van hoeveel brandstofpryse kan styg.
Asof dit nie genoeg hoofbrekens vir Suid-Afrikaners is nie, het die prys van olie Dinsdag ’n sielkundige hoogtepunt bereik. Ruolie het Dinsdag vir die eerste keer ooit bó $100 per vat gesluit. Die termynkontrak vir ruolie het ook ’n rekord van $100,10 per vat bereik. Dit is die hoogste prys sedert kontrak-verhandelinge in 1983 begin is.
Hoewel albei pryse teruggesak het, verhandel hulle steeds in die omgewing van $99 per vat.
Die prys van ruolie het in November verlede jaar vir die eerste keer deur $90 per vat gebreek. ’n Jaar gelede het ruolie nog $62 per vat gekos.
Ontleders verskil oor die rigting wat olie nou sal inslaan. Sommige voorspel dat olie tot $105 per vat kan styg, terwyl ander steeds meen dat dit sal terugsak tot $85 per vat.
Volgens mnr. Antoine Halff, ontleder by Newedge USA in New York, weerspieël die hoë prys van olie nie die hoër vraag en vasgestelde aanbod van olie nie.
“Dinsdag se lopie is minder van ’n aanduiding van die onderliggende mark vir energie, en meer van ’n aanduiding dat kapitaalfondse op soek is na ’n verskansing teen inflasie,” sê hy.
Hy meen dis onwaarskynlik dat die hoë pryse volgehou gaan word.
Volgens mnr. Jeffrey Currie, ’n ontleder by Goldman Sachs in Londen, is dit egter wél ’n vraag-en-aanbod-kwessie.
Die Organisasie van Petroleumuitvoerlande (Opul) gaan waarskynlik nie sy beperkte olie-produksie verhoog nie, en daar word selfs bespiegel dat die produksie verlaag sal word.
Hoër pryse op medium-termyn is waarskynlik, meen hy.
Die kersie op dié koek was die rand se vertoning gistermiddag. Die rand het oomblikke ná Manuel se begrotingstoespraak sy laagste vlak sedert Oktober 2006 bereik, teen R7,9225 per dollar. Dit is byna 30c swakker as dieselfde tyd Dinsdag.
As gister se skerp verswakking van die rand-dollar-wisselkoers blywend is, kan Suid-Afrikaners verwag om nóg brandstofprysstyings ná Maart te sien.