Jaco Leuvennink,
Suid-Afrika sal nie negatiewe internasionale ekonomiese tendense vryspring nie, maar die matige, sowat 0,5 persentasiepunt waarmee verwagte groeikoerse vir die volgende drie jaar afgeskuif is, is nie ooroptimisties nie.
Só het mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, gister in sy begrotingsessie met die portefeuljekomitee oor finansies gereageer op vrae oor of groei in die volgende jaar of wat genoeg sal wees om die belastinginkomste te lewer wat nodig is om begrotingsoorskotte te handhaaf.
Manuel het gekap na ekonome en “sogenaamde ontleders wat gedurig deur die pers aangehaal word” wat selfs praat van ’n moontlike resessie (inkrimping van die ekonomie) weens die Eskom-kragtekorte en ’n verwagte internasionale afswaai.
“Ons sal beslis nie die kans waag dat ons voor volgende jaar se verkiesing na die parlement moet kom om hoër belastings te vra omdat ons nie genoeg invorder om die begrote bestedingstoewysings te kan doen nie,” het hy gesê.
Woensdag is begroot vir ’n oorskot van R16 miljard in die komende boekjaar, wat styg tot R20 miljard in 2010. Dit is ’n gemiddelde oorskot van 0,7% van die bruto binnelandse produk (BBP). Die begrote belastinginkomste is gegrond op ’n verwagte ekonomiese groei van 4% vanjaar, wat tot 4,7% in 2010 styg. Manuel het erken dat die gaping tussen die land se spaarkoers van sowat 14% van die BBP en die kapitaalinvesteringskoers van 21% te groot is. Hierdie gaping moet oorbrug word deur buitelandse investering, wat die rand en die ekonomie kwesbaar maak.
Manuel het ook gesê die “effektiewe afskaffing van valutabeheer vir instellings” en die vervanging daarvan deur ’n stelsel van gewone regulering van oorgrensbeweging van kapitaal, bring Suid-Afrika in ooreenstemming met die internasionale norm. Hy meen hierdie stap toon vertroue in die SA ekonomie.
Oor kritiek op die nuwe elektrisiteitsheffing van 2c op die verbruik van ’n kilowatt-uur krag, het Manuel gesê elektrisiteitspryse in Suid-Afrika dek nie die opwekkingskoste nie (reële pryse het sedert 1990 byna gehalveer) en sal verhoog moet word.
Hy het begrip vir die uitwerking wat dit op inflasie sal hê en die Reserwebank se lofwaardige poging om inflasie in toom te hou. Maar kragpryse dra maar ’n gewig van sowat 3,55% in die inflasiemandjie en dit is “geen heilige paal waar ons moet gaan bid as ons nie die inflasieteikens haal nie”.