Enigiemand wat geglo het dat die land se ekonomiese beleid onveranderd gaan bly ná die ANC se Polokwane-konferensie, behoort ná die naweek se spitsberaad tussen die ANC, Cosatu, die SAKP en Sanco anders te dink.
Die gesamentlike deklarasie wat die vennote gister uitgereik het, maak dit duidelik dat daar ernstig nagedink word oor selfs die mees basiese elemente van ekonomiese beleid.
Niks gaan egter by die deur uitgegooi word voordat dit nie deeglik deurdink en alle moontlikhede oorweeg is nie.
Nommer een op die lys is die inflasieteiken.
Soos ander ekonomiese ontleders buite die partypolitiek, word die vraag gevra of dit sin maak om rentekoerse te verhoog wanneer inflasie styg weens prysstygings van ingevoerde komponente soos voedsel en olie. Hoër rentekoerse sal immers geen uitwerking op die pryse van voedsel en olie hê nie.
Die alliansievennote het in hul amptelike verklaring gevra of die band van 3% tot 6% waarbinne die VPIX-inflasieteikens gestel is, nog toepaslik is in ’n omgewing waar inflasie aangedryf word deur faktore buite die land, maar waarin hoër rentekoerse ’n negatiewe uitwerking het op arm gemeenskappe en werkskepping.
“Die alliansie doen in die lig daarvan ’n beroep dat dringend op nasionale vlak herbesin word of inflasiedoelwitte en die band wat daarvoor gekies is, die geskikte beleid vir Suid-Afrika is in die lig van ons ontwikkelingsuitdagings,” lui die verklaring.
Hulle het dus nie teen inflasieteikens besluit nie, maar wil debat daaroor heropen.
Dis geensins ’n onverantwoordelike debat nie.
Prof.. Joseph Stiglitz, hoogleraar in die ekonomie aan die Columbia-universiteit en wenner in 2001 van die Nobelprys vir ekonomie, het sedert begin vanjaar striemende kritiek uitgespreek op die talle ontwikkelingslande, waaronder Suid-Afrika, wat inflasieteikens ingestel het.
Stiglitz se kritiek geld veral waar inflasie styg nie weens swak binnelandse ekonomiese bestuur nie, maar omdat hoër olie- en voedselpryse ’n baie groot deel uitmaak van armer huishoudings se besteding.
Die alliansievennote het trouens besluit dat al vier gaan deelneem aan die protesveldtogte teen hoër voedselpryse, dat dringende stappe teen uitbuiting en prysvasstelling gedoen moet word en dat die nasionale tesourie dit selfs moet oorweeg om BTW op ’n reeks basiese voedselsoorte op te hef.
Mnr. Trevor Manuel, minister van finansies, was as lid van die ANC se nasionale uitvoerende komitee deel van die beraad die naweek. Die beraad sou gister eers eindig, maar die laaste besprekingspunte is Saterdagmiddag laat reeds afgehandel – omdat daar geen ernstige verskille was nie.
Dit het egter nie só maklik gegaan nie. Die ekonomiese-beleidskwessies moet later uitgetrap word op ’n spesiale, hoë-vlakkonferensie.
Cosatu en die Suid-Afrikaanse Kommunisteparty (SAKP) oefen duidelik nou kwaai druk uit dat van die sleutelaspekte van ekonomiese beleid gewysig moet word.
Tydens sommige van die ekonomiese beleidskwessies het dit duidelik geword dat die vraagstukke heelwat ingewikkelder is as wat aanvanklike gemeen is en dat die spitsberaad nie in die naweek sinvolle besluite daaroor sou kon neem nie.
Om dinge nog ingewikkelder te maak is daar duidelik ’n onderskeid tussen die ANC en sy vennote en die regering. Ook dat ekonomiese-beleidsbesluite nie noodwendig deur die amptenare in die regering uitgevoer sal word nie.
Dit het duidelik geword vir die afgevaardigdes na die naweek se beraad dat sommige van hul voorstelle nie altyd met die werklikheid tred hou nie. Dit sal dus deeglik deurgetrap moet word voordat hulle met pres. Thabo Mbeki en die amptenary in die regering ’n rusie daaroor aanknoop.
Dis egter duidelik dat sake nie sal aangaan asof niks gebeur het nie.
Die alliansie-beraad het Eskom se aansoek om elektrisiteitstariewe met 53% te verhoog eenparig verwerp.
Dit impliseer ’n besluit dat die belastingbetaler in Eskom se toekomstige kapitaalbehoeftes sal moet voorsien – nie die verbruiker nie.
Dit dui waarskynlik op ’n belangrike fiskale beginsel waarop die alliansievennote besluit het en wat in die toekoms by ander ekonomiese besluitneming in gedagte gehou sal moet word.
Die amptenary kan in dié stadium dalk nog daarteen weerstand bied en weier om dit toe te pas, maar mettertyd sal strukture ingestel word waarin hulle sal moet verslag doen en wat gaan toesien dat sulke besluite deurgevoer word.
Een van die eerstes is eise dat wetgewing deurgevoer moet word om die parlement in staat te stel om wysigings aan finansiële wette, soos die begroting, aan te bring.
Hieroor gaan die hare nog waai, want Manuel was nog altyd daarteen gekant omdat dit die begrotingsproses in die praktyk bitter moeilik gaan maak, indien nie onmoontlik nie.
Die nuwe ANC-leiers benader dit egter vanuit ’n bedingingsoogpunt: dis vraagstukke wat op die tafel geplaas en bespreek moet word. Diegene wat meen dis onprakties of onmoontlik, moet kom sê waarom dit nie uitgevoer kan word nie.
Op die oog af lyk van die besluite na ’n reaktiewe benadering op Gear, die makro-ekonomiese raamwerk wat Mbeki en Manuel in 1996 van stapel gestuur het. Daar is byvoorbeeld ’n kort mosie “dat privatisering en uitkontraktering gestaak moet word en dat huidige uitgekontrakteerde entiteite in die openbare sektor hersien moet word”.
Dis egter water onder die brug. Die Gear-dokument is jare gelede al deurgevoer en afgehandel. Dis lankal tyd dat iets in die plek daarvan gestel moet word.