Toe ek in November 1989 verslag doen vanuit Berlyn, waar die Muur net ’n dag of twee vantevore finaal verkrummel het, was die toekoms swanger met moontlikhede.
Die Koue Oorlog het tot stilstand geknars, die Sowjetunie het sy einde tegemoet geloop.
Wat sou daaruit voortvloei?
Dat die kommunisme misluk het, was duidelik vir ’n ieder en ’n elk om te sien. Dat die demokrasie geseëvier het . . . dit was nog onduidelik. En dat die wêreld toe ’n stabiele en gelukkige toekoms tegemoet kon gaan, dat die einde van die geskiedenis aangebreek het, was ’n heeltemal voorbarige voorspelling.
Agttien-en-’n-half jaar ná die val van die Berlynse Muur is dit duidelik dat dit weliswaar die einde van ’n historiese fase ingelui het, maar nie die begin van ’n nuwe fase nie – hoogstens die begin van ’n oorgangsfase.
Die 1990’s was dié oorgangsfase waarin die mensdom die illusie van ’n beter toekoms kon koester, nie wetende wat sou voorlê nie.
Toe breek 11 September 2001 aan. En met een klap is die hele wêreld op sy kop omgekeer.
Om die betekenis van 9/11 behoorlik te verstaan, ook op ekonomiese gebied (dit is immers waaroor dié artikel veronderstel is om te gaan), is dit nodig om te begryp dat die oorgangsfase van 1989-2001 in die oë van die salig onkundige tydgenote die einde van geloof in die politiek ingelui het.
Daarmee bedoel ek nie noodwendig religieuse geloof nie.
Nee, ek bedoel die Groot Gedagte, die een wat ’n towerformule vir die verstaan van alles kon lewer. Byvoorbeeld die een van Karl Marx, vir wie die klassestryd die formule was.
Die 1990’s was daarom die dekade van triomfantelisme, een waarin die kapitalisme finaal die eindoorwinning oor die kommunisme behaal het.
Die probleem was egter dat ’n ander Groot Gedagte opgestaan het.
Ja, in die verset wat betogers op verskeie plekke by G8-berade teen globalisering getoon het, kon ’n mens sien dat nie almal die kapitalisme ewe geesdriftig omhels het nie.
Die eintlike aanslag het egter gekom uit ’n rigting waaruit niemand dit verwag het nie – die Islam.
Skielik het geblyk dat ’n belangrike deel van die mensdom nie veel aan die Westerse sekulêre denkwyse moes hê nie, en dus ook nie aan die kapitalisme nie.
Waarom nie?
Marx het niks hiermee te make gehad nie. Dit het gegaan oor ’n groeiende vertolking van die Koran.
Dit gaan oor verset teen sekulêre denke, wat ervaar word as koud, gevoelloos en sielloos. Oor verset teen die idee dat slegs die híer en nó? belangrik is, dat wins die enigste nastrewenswaardige doel in die lewe kan wees.
Dat die koue rede en rasionaliteit die bril moet wees waardeur alles bekyk word.
Dit gaan wyer as die verset van sekere radikale Moslems. Die oorwinning van 1989, as ’n mens dit so kan noem, het in verskeie opsigte die kiem van die probleme van 9/11 in hom omgedra.
En, net om misverstande te voorkom: Dit gaan hier nie om kant kies vir die een teen die ander nie. Dis ’n – dalk onvolkome – poging om ’n probleem te identifiseer. Niks meer nie.
Die koue, kapitalistiese benadering met groei en wins as enigste doel, het nie vir almal die beloofde goue berge gebring nie. Inteendeel, 100 miljoen mense leef volgens syfers van die Wêreldvoedselprogram (WVP) onder die armoedegrens, en die WVP verwag dat hy vanjaar 73 miljoen van hulle sal moet voed.
Omdat voedselprodusente ’n vinnige wins sien, het baie van hulle hul produkte begin lewer vir die vervaardiging van bio-brandstof. Dus het die prys van baie voedselprodukte die laaste jaar of wat reeds met 50% gestyg, iets wat miljoene mense in die arms van hongersnood gedryf het.
As dit nou nog die brandstofprobleem verlig het, kon dit dalk nog die moeite werd gewees het. ’n Derde van die mielieproduksie staan egter gelyk aan slegs 3% van die brandstofbehoefte.
Volgens die Wêreldbank moet twee miljard mense wêreldwyd daagliks worstel om genoeg kos in die hande te kry. Dis sowat ’n derde van die mensdom.
’n Volle 33 lande kan deur dié probleme in ’n chaos gedompel word. Gewelddadige proteste, burgeroorlog en terreur kan die gevolge daarvan wees – en ’n belangrike deel van dié geweldpleging kan hom op die voorstoep van die rykes in die Weste afspeel.
Agter die skerms sal die radikale Moslems, met hul bedrieglik eenvoudige Groot Gedagte, verder olie op die vuur strooi.
’n Paar jaar gelede sit ek by ’n byeenkoms in Kaapstad waar sakeleiers vertel van al die uitbreidingsplanne vir hul maatskappye, verhoogde wins, noem maar op.
Regtig baie indrukwekkend.
Maar, het ek my afgevra, wat is ágter die mooi syfers? Waarom die planne?
Ja, sê een kokkedoor later aan my, dis om weer in die onderneming te steek en nóg beter syfers te behaal.
Inderdaad.
’n Kringloop. Maar wat steek ágter dit alles?
Die antwoord is ontnugterend. Niks. ’n Morele vakuum.
Dis nie om mense op te hef of ’n beter lewe te besorg nie. Dis nie om die wêreld ’n beter plek te maak nie. Dis bloot om nog meer wins te maak.
Dis geen ekskuus vir geweldenaars nie, maar weet dít: As ons nie ons aktiwiteite só inrig dat dit van die wêreld ’n beter plek maak nie, sal die geweldenaars na óns toe kom. Dan is ons winssyfers en mooi toekomsplanne in sy peetjie in.
Adam Smith het reeds die beginsel van verligte eiebelang uitgelig as morele imperatief in die ekonomie.
Onthou, óns honger massas sit nie daar ver in die Derde Wêreld nie; hulle is letterlik op klipgooi-afstand in Langa of Soweto.
Dink ’n keertjie daaraan as jy jou volgende Power Point-aanbieding voorberei!